Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Ons het baie ideale om na te streef.

Daar is ’n ideale liggaamsmassa, massa-lengte ratio, dieet (alhoewel dalk effe kontroversieel), oefen regime, werksomgewing en kinderopvoeding. (Om maar net ’n paar te noem.) Ons probeer gedurigdeur verbeter, aanpas, uitblink. Die gedagte dat dit hoe ons nou is, hoe ons dinge doen en wie ons is, eintlik goed genoeg of ok is, kom selde by ons op.  So gebore en so gelaat staan is immers nie ’n navolgenswaardige voorbeeld nie. En “kannie” is nie ’n opsie nie.

Soms kan dit egter nogal uitputtend wees om die hele tyd in ’n permanente metamorfose te wees, altyd op soek na iets beters, groters. Ek dink ons het soms nodig om te hoor dat ons, selfs op ’n slegte dag wanneer ons nie juis mooi lyk of veel uitrig nie, goed genoeg is. En dat ons menswees, ons daar wees vir ander, klaar die wêreld ’n beter plek maak.

Iemand het juis onlangs vir my gesê dat ons “human beings”, en nie “human doings” is nie. Ons is gemaak om God te verheerlik deur wie ons is, en nie deur ’n lang lys prestasies of lang ure oortyd nie. Natuurlik is dit wonderlik wanneer mense hulle talente ontgin en geniet, of hulle werk met ywer doen, maar dit kan en moet ons nooit definieer nie. Jy is nooit ’n beter of meer kosbare mens net omdat jy iets reggekry het waarmee die meeste ander sukkel nie. God ontmoet jou juis daar waar jy te kort skiet en jou onvermoё en swakhede, erken en bely.

“As ek swak is, is ek sterk”, het Paulus geskryf.

Moses het in sy swakhede vasgekyk. Hy was ’n vlugteling, aangekla vir moord. Boonop was hy nie ’n goeie spreker nie. En tog is dit juis daar waar hy in ’n ver land wegkruip, waar God hom kom ontmoet. Om vir hom te sê dat hy goed genoeg is. Die uitverkore leier wat die volk van Israel uit Egipte – die plek van ballingskap – na die beloofde land moes lei. Sy swakhede het nie saak gemaak nie, God was sterk genoeg vir hulle albei. Dit was nie nodig om eers vir spraakterapie, of ’n leierskapskursus te gaan nie. Moses was ok, net soos hy is.

Die Samaritaanse vrou van wie ons in Johannes 4 lees, het ook geweet dat sy te kort skiet. Dis trouens al waarvan sy bewus was. Sy kon nie haarself aanvaar nie, en het daarom ook nie regtig gedink dat iemand anders haar sal aanvaar nie. Dit is seker hoekom sy eerder oor die warmste tyd van die dag na die put gegaan het om water te skep, wanneer daar niemand anders sou wees nie. Geen vreemde kyke nie. Geen skindertonge nie.

Maar daar was iemand. Onverwags. En hierdie ontmoeting het haar lewe totaal verander. Jesus was daar en Hy, ’n Joodse man, het haar raakgesien en na haar uitgereik. “Hoe kan U vir my, ’n Samaritaanse vrou, vir water vra?” het sy verwonderd gesê. “Weet U wie ek is? Weet U wat ek gedoen het? Weet U…?”

Maar Jesus het geweet. Hy het alles geweet. En nog steeds het dit nie saak gemaak nie. Vir hom was sy ok. As jy weet waar jou swakheid is, weet jy ook waar jou krag lê. Dit het hierdie verstote vrou daardie dag by die put geleer. Sy kon vir lewende water vra. Sy kon die Messias self in die oё kyk. Sy kon weet dat sy nie meer of beter hoef te wees nie, omdat Jesus klaar vir ons genoeg is. In plaas van negatiewe selfspraak, het sy met ’n nuwe en kragtige boodskap daar weggaan. Sy kon ’n getuie word en mense na Jesus toe roep.

Jy is ok. Net soos jy is. Ten spyte van die ekstra kilogramme, jou deurmekaar huis wat veel te wense oorlaat of jou beroep, wat maar net nie behoorlik op dreef wil kom nie. Dit is nie verkeerd om te droom nie, maar selfs wanneer dit nie uitwerk nie, is jy nog steeds ok. Geliefd. ’n Koningskind. Dit definieer jou. Wanneer jy swak is, is jy eintlik sterk.  Jy is ok.