Nick Vujicic is gebore sonder arms en bene. Hy het op vyftienjarige ouderdom sy lewe volkome aan Christus oorgegee nadat hy die volgende gelees het: *Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word (Joh. 9:1-3).* Nick het toe gesê: “God, as U ‘n plan met ‘n blinde man gehad het, sal U ‘n plan met my hê.”
Nick vertel hoe sy lewe toe verander het. Kerk- en jeuggroepe het hom begin nooi om by hulle te gaan praat en sy getuienis te gee. Daarna het hy op verskeie plekke in die wêreld voor baie groot groepe mense gaan preek en gesien hoe ‘n halfmiljoen mense vir Jesus “Ja” gesê het en opgeneem is in plaaslike kerke.
In ‘n preek sê hy onder andere: “Een ding wat mense keer om na Jesus te draai is dat hulle nie glo dat Jesus hulle regtig so innig liefhet nie. En dis nes mý diepste vraag: ‘Waarom het U my so innig lief, ek verstaan dit nie.’ … Ondanks my sonde het Jesus my nog lief. Ons hemelse Vader het jou onvoorwaardelik lief.” Nick vertel hoe hy die skop van sy seuntjie in sy swanger vrou gevoel het en vir sy vrou gesê het: “Ek het hom lief”. Hy sê: “Ek het hom nog nooit gesien nie, of sy glimlag gesien nie, hom hoor lag nie. Hy het nie my liefde verdien nie, geensins nie. Voordat hy gebore is het ek hom geken, en hy was myne. God het jou ook so lief.” Hy sê dat mense sê dat dit nie waar kan wees nie. Hulle sê dat ‘n mens eers ‘n beter persoon moet wees voordat God hulle sal liefhê.
Nick vertel toe in sy preek wat in 2008 in Moembaai, Indië gebeur het: “Ons het die rooiligbuurt besoek: bordeelhuise, een stadsblok ses verdiepings hoog met 150 bordeelhuise en waarin ontvoerde tienjariges onder dwang prostitusie moes pleeg, waarvan ‘n fraksie, so 10%, daar was omdat hul ouers hulle verkoop het.” Daar het hulle na ‘n ou vrou gegaan. Sy was so swak dat sy nie eers haar mond kon toe hou nie. Hy het toe begin om haar te vertel van Jesus. ‘n Ander vrou het ingekom en kwaad vir Nick gevra wat hy daar doen. Hy het gesê dat hy haar vertel van Jesus. Sy het toe gesê dat hy moet stop daarmee en vir hom gesê: “Wys my dat jou God leef, staak die gepraat, wys my, laat my suster loop. Daardie vrou is my suster en sy het die afgelope vier jaar nie hierdie gebou verlaat nie. Kyk na haar bene. (Hulle was net vel en been.) Sy is verlam, ons moet haar elke dag dra, sy is byna dood.” Nick en sy groep het toe begin bid en binne minute het die vrou opgestaan en selfs op en af gespring. En toe die trefreël: “Daardie vrou wat genees is, was nie enige ou vrou nie. Ek het later gehoor dat hierdie vrou die een was wat die stadsblok vol bordeelhuise 45 jaar tevore begin het. Sy was die brein daaragter. Sy het die koppelaars en die meisies en die ontvoerders gewerf. Sy het geld gemaak uit die mishandeling van vroue en mensehandel, en God het haar nogtans genees. Niks kan ons skei van die verstommende liefde van God nie.”
*Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom. 8:38 – 39).*

*Dankie God vir Nick Vujicic en dat sy lewe ’n getuienis is van u krag en u liefde. Amen*

 

deur Gert Berning