John Powell, ’n professor aan die Loyola-universiteit in Chicago, vertel van ’n student, Tommy, wat sy kursus, Theology of Faith, bygewoon het. Tommy het enige moontlikheid van ‘nVader-God wat onvoorwaardelik liefhet, in twyfel getrek. Na die eindeksamen het hy vir John gevra: “Prof, dink jy ek sal ooit vir God vind?” John het geantwoord: “Nee, ek dink nie jy sal ooit vir God vind nie, maar ek is beslis seker dat Hy vir jou sal vind!”
’n Paar jaar later was Tommy weer by die professor. Tommy het vertel dat hy kanker in albei longe het en dat hy nog net ‘n paar weke oor het om te lewe. Sy liggaam was uitgeteer, sy hare het uitgeval van die chemoterapie, maar sy oë het geblink. Tommy het vertel dat hy eers werklik vir God begin soek het toe hy gehoor het van die kanker, maar niks het gebeur nie. Hy vertel: “Die kanker het deur my hele liggaam versprei. Ek het begin om met my vuiste teen die hemel se poorte te slaan …. maar God het nie te voorskyn gekom nie.” Toe het hy op ‘n dag net opgehou probeer. Hy het onthou dat die professor gesê het: “Dit is tragies om deur die lewe te gaan sonder liefde. Maar dit is net so tragies om hierdie wêreld te verlaat sonder dat jy vir diegene wat jy liefhet, vertel het dat jy hulle liefhet.” Tommy het toe begin by sy pa en gesê: “Pa, ek is lief vir jou. Ek wou maar net hê jy moet dit weet.” Sy pa het gehuil en hom styf omhels. Hulle het die hele nag deur gesels. Dit was vir hom ‘n wonderlike gevoel om so naby aan sy pa te wees. Dieselfde het gebeur met sy ma en sy kleinboet. Tommy het gesê: “Daar was net een ding waaroor ek so bitter jammer was – dat dit so lank moes vat voordat ons hierdie dinge kon doen.” Hy het verder vertel: “En eendag, toe ek weer sien, toe was God daar! Hy het nie na my gekom toe ek Hom gesmeek het en wou voorsê nie. Ja, u was reg Prof, Hy het my gekry, selfs nadat ek opgehou het om Hom te soek.” John het geantwoord: “Wat jy eintlik sê, is dat die maklikste manier om God te vind, is om op te hou om Hom jou persoonlike besitting te probeer maak, of net iemand wat moet help wanneer jy in die nood is.”
As ons reeds weet van God en sy verlossingsplan, en ons klop aan die hemelpoort en hoop dat God ons hoor, maar ons doen dit om die verkeerde redes, mag dit wees dat ons teleurgesteld gaan wees. Dit is God wat by óns kom klop sodat ons om die regte redes vir Hóm sal oopmaak (Open. 3:20): Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. God praat met ons deur, onder andere, sy Woord, die Bybel. Ons moet Gód se stem hoor (Hebr. 3:15): Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.” God wil hê dat ons moet oopmaak vir Hom, ons lewe vir Hom gee, in ’n verhouding met Hom moet leef, Hom sal liefhê, die versoening met Hom moet beleef. Hy wil deel van ons lewe wees, deur sy Gees in ons woon, vir ons ’n Vader wees.
Dikwels is mense afgetakel voordat hulle by die punt kom waar hulle alles aan God oorlaat. En dan sê hulle: “Toe ek weer sien, toe was God daar!” En hulle oë blink.
Ons hemelse Vader, dankie dat ons kan weet dat U ons baie lief het. Help ons asseblief om ons harte vir U oop te maak.
Amen.
See video on Youtube:
Listen to the English version here