Tydens die oorlog in Viëtnam het ʼn jong man opdrag gekry om ’n groep soldate in ’n aanval teen die magte van die Kommunistiese Viëtkong te lei. Een nag is hy en sy manne deur ʼn bataljon van die Viëtkong oorval. Behalwe vir een kon hy al sy manne na veiligheid bring. Die soldaat wat agtergelaat is, was ernstig gewond. Binne hul loopgrawe kon die jong luitenant en sy manne hoor hoe hul gewonde kameraad kreun en om hulp roep. Hulle het geweet dat om hom te probeer red byna verseker ʼn gewisse dood sou beteken. Die gekreun van die gewonde soldaat het reg deur die nag aangehou. Uiteindelik het die jong luitenant sy veilige skuilplek verlaat op pad na waar die geroep van die sterwende man opgeklink het. Hy het hom veilig bereik en kon hom terugsleep. Maar net toe hy die gewonde man finaal in veiligheid gebring het, het ʼn koeël hom self in die rug getref en het hy op die plek gesterf.
Etlike maande later het die geredde man na die Verenigde State teruggekeer, en toe die gestorwe held se ouers hoor dat hy in hul omgewing was, het hulle beplan om hom een aand vir ete oor te nooi. Hulle wou hierdie man leer ken wie se redding hulle so duur gekos het. Die aand het hulle gas beskonke daar aangekom. Hy het luid tekere gegaan en vulgêre grappe vertel. Hy het geen begrip getoon vir die hartseer van die gestorwe soldaat se ouers nie. Hulle het egter probeer om iets van die aand te maak, maar hul pogings was tevergeefs. Eindelik het die ongure gas na sy onplesierige besoek vertrek. Toe die pa die deur toemaak het die ma in trane neergesak en uitgeroep; “Om te dink dat ons dierbare seun vir iemand soos hy gesterf het.”
Iets soortgelyks, net baie, baie erger, het omtrent 2000 jaar gelede gebeur. God, ons Vader, het sy seun Jesus, na hierdie wêreld gestuur om ons te kom red. Maar met Jesus het gebeur wat reeds 700 jaar voor Jesus se geboorte voorspel is: Hy was verag en deur die mense verstoot, ʼn man van lyding en wat pyn geken het … Oor ons oortredings is Hy deurboor … die straf wat vir ons vrede moes bring was op Hom (Jes. 53:3–5).
Jesus sterf aan die kruis om ons te red, maar soos met die geredde soldaat hierbo, leef ons soms asof dit niks is nie. Ons mag nooit daarop met ongeërgdheid reageer asof Jesus se lyding niks was nie. Ons moet sê: “Ek is die rede vir u lyding en sterwe aan die kruis. Vir my het U daar gehang. Vir my was daardie wonde en die doringkroon. Daar het U in my plek die straf vir my sonde gedra sodat ek vergewe kan word en vir ewig by U kan wees.”
Dit was God se eie reddingsplan. Maar Hy kon ook sê: “Om te dink dat my kosbare Seun moes sterf vir mense soos hulle.” Maar deur God se liefdevolle genade vergewe Hy almal wat Jesus aangeneem het as hul persoonlike Verlosser en Hy maak hulle sy kinders. Hulle word deel van God se familie en hulle vier saam met Hom fees.
Ons Here, vul tog ons harte met dankbaarheid oor wat Jesus vir ons gedoen het.
Laat ons nooit daarop met ongeërgdheid reageer asof dit niks was nie. Amen.
Gratis e-posboodskappe maandeliks vanaf gerberning@gmail.com.