Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

2 Korintiërs 4:16-5:10

Oepke Noordmans, ‘n bekende Nederlandse teoloog, het ‘n pragtige beeld vir gelowiges, of dan die kerk, gebruik: “Ons is te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde”. Ons hang so bietjie tussen hemel en aarde, ons leef reeds asof in die hemel, maar ons is nog deel van hierdie aarde. Ons is so tussenin, vis nog vlees.

Dis natuurlik nie altyd maklik om heeltyd so in die spanningsveld, op die grens tussen twee wêrelde te leef nie – dan  beleef ons iets van die hemel, net om daarna weer hard aarde toe te kom.

Presies hieroor gaan dié gedeelte in Paulus se brief.

1.Kyk, skryf Paulus vir die Korintiërs, ek besef dat julle moedeloos kan raak, die spanning tussen die twee wêrelde julle kan laat sug. Want ons is nou eenmaal vasgevang tussen die kontraste van twee wêrelde, tussen hemel en aarde. En dan noem hy ‘n klompie voorbeelde.

  • Aan die een kant sien ons hoe ons liggame, ons uiterlike mens maar verganklik is, aan die tot-niet-gaan is. Aan die ander kant beleef ons dat ons innerlike mens tog nuut word, ons innerlik met die jare ryker en ryper word – ons lewe op aarde tog ook mooi is.
  • Ons belewe in ons tydelike aardse bestaan allerlei verdrukking en lyding, maar ons word ook belowe dat daar vir ons ‘n ewige heerlikheid wag. Dié twee staan teenoor mekaar. Ons word heen en weer tussen die twee geslinger – die werklikheid van verdrukking en die belofte van heerlike nuwe wêreld wat kom.
  • Hier op aarde leef ons nog in ‘n tentwoning, wat tydelik is, wat afgebreek word. Ons lewe is maar broos, dit weet ons. Maar ons verwag ‘n hemelse woning, wat God self gebou het, nie met mensehande nie, en wat dus nie verganklik is nie. Aan die een kant verlang ons na dié hemelse woning, maar aan die ander kant is ons tog nog verknog aan ons aardse lewe. Hierdie tentwoning is vir ons goed, ons wil dit nie regtig vir die hemelse woning verruil nie. Daarom wens ons eintlik dat die hemelse woning bo-oor die aardse tent gebou word, sonder dat die aardse tent eers afgebreek hoef te word. Want vir hierdie afbreek van ons tent sien ons nie kans nie, dit laat ons weerloos, kaal, gestroop.

Paulus besin hier oor diep lewensvrae, dilemmas waarmee ons as moderne mense steeds worstel. Hier op aarde kry ons swaar, ons leef maar in gebrokenheid, ons tentwoning word afgebreek, ons uiterlike menswees gaan tot niet. Ons weet ook van die heerlikheid wat kom, die onverganklikheid, ons probeer daarna uitsien, maar ons is ook verknog aan ons lewe hier op aarde. Dis vir ons kosbaar en mooi … eintlik wil ons nie hiervan afskeid neem nie.

2.Om aan dié spanning tussen hemel en aarde te ontsnap, is daar mense wat as uitweg vir een van twee opsies kies.

Daar is aan die een kant mense wat kies om hulle rug op hierdie aarde te draai, en net met hulle oë op die hemel gerig te leef. Hulle onttrek hulle van hierdie aarde. Hulle hou hulle nie meer besig met die dinge van hierdie aarde nie. Asof dit nie vir hulle kosbaar is nie. Of altans, so dink hulle. Want dis nie regtig moontlik nie, dis om die waarheid te sê skynheilig om te dink as ek kind van die Here is, is ek beter as dié wêreld, leef ek verhewe bo hierdie aardse gebrokenheid, is ek van alle teenspoed gevrywaar, kan ek my losmaak van die dinge van hierdie wêreld, kan ek reeds leef asof in die hemel. Dis sulke mense wat dikwels hard aarde toe gebring word.

Daar is aan die ander kant mense wat hulle rug op die hemel draai en net maar vir hierdie aarde leef, asof daar nie ook ‘n hiernamaals is nie. Wat sin aan hulle bestaan gee is net dinge wat hulle hier op aarde self kan verwerf, of besit, of verbruik. Hulle leef volledig uitgelewer en toegewy aan hierdie aardse lewe. Al wat daar is, is net maar ons tentwoning; daar is nie sprake van ‘n hemelse woning nie. Daarom moet ons maar die beste maak van hierdie tentwoning, die meeste daaruit kry. Dalk is dit hoe die meerderheid moderne mense dink. Ook hulle is in vir ‘n verrassing!

Is dit die enigste twee keuses – om of in die hemel te leef, met jou rug na die aarde gekeer, of om net vir hierdie aardse bestaan te leef, met jou rug op die hemel?

3.Nee, sê Paulus, daar is ‘n derde keuse. En dis waarmee hy die Korintiërs wil bemoedig. Dis moontlik om aan beide die hemel en die aarde vas te hou, inderdaad in die spanningsveld tussen die twee te lewe. Dis moontlik om vrede te maak daarmee dat ons te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde is.

Hierdie derde opsie beteken ons leef pens en pootjies hier op aarde. Ons raak betrokke. Ons woel en werskaf. Ons leef voluit. Ons doen goeie werke, ons leef nie net vir onsself nie, ons doen hier op aarde dit wat vir God welgevallig is. Ons leef verantwoordelik, en ons geniet hierdie lewe as geskenk uit God se hand. Ons versier ons tentwoning, sorg dat die tentpenne en toue styf bly. Ons veg teen die afbreek daarvan, en teen die vergaan van die uiterlike mens. Ons stry teen die swaarkry en lyding. Ons leef moedig hier op aarde.

Maar, en dis nou die groot verskil. Terwyl ons nie die rug op die aarde draai nie, leef ons tog met ons oë gerig op die toekoms, God se toekoms. En al kan ons nog nie die aanbreek van die hemel hier op aarde aanskou nie, verwag ons dit in die geloof. Ons kan die lyding hier op aarde verduur, want ons weet daar wag ‘n ewige heerlikheid, ‘n nuwe werklikheid. En dié werklikheid is reeds hier binne ons aan die gebeur. Ons hou vas daaraan dat alles nie maar net tydelik is en vergaan nie, maar dat Christus Jesus alles eendag sal nuut- en heelmaak – ook onsself. Dis die hoop waarby ons leef.

Hoe weet ons dat dit regtig sal gebeur? Dis God self wat aan ons die belofte gee. En as waarborg dat Hy dit sal doen het Hy aan ons die Heilige Gees gegee. Die Heilige Gees is niks of niemand anders as die Gees van die Vader en die Gees van die Seun nie, God wat by ons teenwoordig is, wat hier op aarde tussen ons tent kom opslaan het, binne ons kom woon en werk het. En die Heilige Gees gee vir ons krag en geloof, maak ons oë oop daarvoor dat God besig is om hierdie aardse tentwoning in ‘n vaste hemelse woning te verander. Die Heilige Gees troos ons met God se toekoms wat aan die kom is. Die Heilige Gees is daarvan die waarborg.

Daarom, skyf Paulus, is ons altyd vol moed, leef ons voluit hier binne ons aardse tentwoning, want ons het die waarborg dat God deur sy Gees ‘n nuwe hemelse woning aan die bou is – ook binne in ons, nou en hier.