“My Heer, hoor tog! … om u eie ontwil, my God.” – Daniel 9:3-6, 16-19
Rogate Sondag, as deel van die Paasfeestyd, handel oor gebed, oor aanbidding en voorbidding. Dit gaan ook om voorbereiding vir Hemelvaart – die herdenking van Jesus Christus wat sy plek aan die regterhand van God op die troon gaan inneem het, waar Hy self vir ons intree by die Vader, waar Hy voortdurend vir ons, sy kinders, en vir die wêreld bid.
In die Bybel is daar vele voorbeelde van gebede, lofgebede, dankgebede, gebede waarin skuld bely word, pelgrimsliedere vol verlange, smeekgebede, klaagliedere, stille versugting. Die hele Psalmboek is niks anders as ‘n gebede-boek nie. As voorbeeld van een so ‘n gebed staan ons stil by die aangrypende gebed in die boek Daniël.
Maar eers bietjie agtergrond: Die boek Daniël is nie in die eerste plek ‘n historiese verhaal nie. Dis ook nie ‘n gewone profete-boek nie. Dit is eerder ‘n apokaliptiese boek soos die boek Openbaring. Op simboliese wyse, deur drome, visioene, beelde en getalle wil dit vir mense wat in ‘n krisistyd leef troos bring. Die boek wil hulle troos met die wete dat God steeds, te midde van die geweldige krisis, in beheer is, dat Hy ons smeekgebede hoor, en sal verhoor, en ons op sy tyd uit die krisis sal red.
Die boek Daniël is waarskynlik so 200 voor Christus se koms geskryf, in ‘n tyd wat die Grieke Jerusalem ingeval en oorheers het, en die Jode gedwing het om die Griekse gode te aanbid. Dit was skrikwekkende tye, amper asof die Jode ballinge, vreemdelinge, in hulle eie land geword het. In dié tyd het die Griekse heerser Antiogos IV homself tot god verklaar en die tempel in Jerusalem verontreinig; hy het selfs daar ‘n vark op die altaar laat offer – ondenkbaar godslasterlik vir die Jode, asof die einde van die wêreld nou aangebreek het! In so ‘n tyd is die boek Daniël geskryf.
En dan lees ons van die gebed van Daniël. Dis ‘n aangrypende gebed, ‘n smeekgebed – die gebed van ‘n enkeling wat in hierdie donker en bose tye namens die volk by God intree. Daniel was baie bewus van die erns van die tyd waarin hulle verkeer het, die geweldige bedreiginge, die verreikende implikasies.
Hier staan, hy het hom toe tot God gewend, smekend, vastend, met ‘n roukleed aan en stof op sy kop. In diepe verootmoediging buig hy in gebed voor die God van Israel. Daar is drie belangrike fasette in sy gebed:
- Belydenis van skuld
Daniël probeer nie vingerwys na al die bose Grieke nie. Hy verontskuldig nie homself of die volk nie. Hy kom en bely: dis ons skuld Here! Dis ons wat ons koppe in skaamte moet laat sak. “Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings” – ons almal, van die leiers tot die gewone mense.
Wat opval is dat Daniël nie net sy eie sonde bely nie. Hy bely ook namens sy mense, hy tree vir die hele volk van God in die bres.
Miskien is dit die rol wat ons as gemeente in hierdie tyd kan speel. Meestal het ons as gemeentes, as kerk, in hierdie gesekulariseerde, godlose wêreld, nie meer gesag en mag om dinge self te verander nie, om self die uitwerking van die bose te keer of die gebrokenheid te heel nie. Ons is maar ‘n klein minderheid wat meestal magteloos staan. Maar ons roeping bly om in te tree vir hierdie wêreld, soos priesters namens die wêreld by God in te tree, om namens die wêreld te pleit, skuld te bely … en om by onsself te begin: ons, die kerk, staan ook maar netso skuldig en in skaamte voor God soos die wêreld daarbuite.
Dink maar aan die gesprek tussen Abraham en God oor die straf en uitwissing van die bose Sodom en Gomorra. Al sou daar net 10 mense in die groot stad oorbly wat priesterlik vir die res intree, wat nie die knie voor die afgode buig nie, sal God die stad spaar. Dis verseker ons dringendste roeping as kerk vandag, om priesterlik vir hierdie wêreld in te tree by God, met ‘n gesindheid van egte verootmoediging.
- Beroep op God se genade en almag
Nie net bely Daniel sy eie en die volk se skuld nie, hy doen ook ‘n beroep op God se genade, op God se verbondstrou. Hy herinner God aan sy beloftes. “Ag my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en die verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom.” Here, U het mos belowe, U het U aan ons verbind, onthou dit tog, bid Daniël.
Hy maak ‘n appèl op God se genade, hy herinner God aan wie Hy is, en hoe Hy is – ‘n genadige God. “by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis.” En nie alleen is God genadig nie, maar Hy is ook almagtig. Here, onthou tog hoe U die volk uit Egipte gered het – U kan mos weer so ingryp in hierdie donker uur en ons uitred, U kan mos weer u woede van ons afwend en ons verlos – so pleit Daniël by God.
Ons kan met vrymoedigheid ons skuld en gebrokenheid voor God se voete kom lê, en dié van ons wêreld vandag, want die God voor wie ons buig is genadig, vol ontferming, maar Hy is ook almagtig, Hy kan redding gee. Hy hoor ons gebed, Hy sal dit verhoor.
- Om God se ontwil
Nie net bely Daniel sy en die volk se sondes nie. Nie net doen Hy ‘n beroep op God se genade en almag nie … sy eintlike motief is dat God se Naam groot gemaak sal word, in eer herstel sal word. Dat God se Naam so vertrap word in hierdie wêreld, dat God se Naam so onteer en gelaster word, dat daar by wyse van spreke ‘n vark op die altaar in God se tempel geslag word, dit kan mos nie! Dit mag nie. Daarom pleit Daniel se gebed daarvoor dat God self weer sy Naam sal verheerlik. Dat God weer aan die wêreld sal wys dat Hy God is, die Almagtige. Dis om u eie ontwil… Dringend pleit hy: “My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk”
Dat ons as gemeente geroep is om priesterlik in te tree vir ons stad, vir ons land, is nie net gemik op ons verlossing, op die heelmaak van ons stukkende wêreld nie, maar op die herstel van God se Naam, sy eer. Daarom is hierdie priesterlike roeping van die kerk so dringend – ons moet vir die wêreld intree, ter wille van God se eer.
En dis presies ook waarom Jesus na die hemel opgevaar het, om daar by die Vader vir ons sy kinders, en vir die wêreld, te gaan intree, priesterlik in ons plek te bid vir verlossing en bewaring … ter wille van die eer van God se Naam.