I
Klaagliedere is, om dit sag te stel, nie juis ‘n gewilde Bybelboek nie. Reeds die naam van die boek sit mens af – niemand is lus vir klaagsange, ‘n geweeklaag nie. Ons wil eerder positiewe goed hoor; ons soek maklike en vinnige trooswoorde.
En tog is Klaagliedere ‘n besonderse boek. Dit help ons om te midde van wanhoop en lyding weer hoop te kry, en vreugde. Klaagliedere bring ons uit by ware hoop, dit bied egte troos. Want dit spring nie sommer bo-oor ons pyn nie, dit systap nie ons smart nie, dit ontken nie ons ellende nie, nee, dit help ons om die hartseer en pyn in die oë te kyk, en dan daardeur te werk. Omdat Klaagliedere ons woorde gee om eg te treur, woorde om ons smart oor verlies mee te verwoord, daarom help dit ons om weer heel te word, weer voluit te lewe. Daarom is Klaagliedere een van die mees troosryke boeke in die Bybel.
Klaagliedere bestaan uit vyf liedere wat geskryf is kort na die val van Jerusalem. Die tempel is verwoes, en ‘n groot deel van die volk is doodgemaak of in ballingskap weggevoer. Ons kan ons net indink hoe traumaties dit moes wees – die tempel, as simbool van God se teenwoordigheid en heerlikheid, is platgeslaan. Vir die Jode kon daar niks kon erger gebeur nie! ‘n Ramp, vernedering, verlies, skande – God se eer is onder die volke geskend! Is Hy regtig God? het baie begin wonder.
II
Ons beleef vandag ook geweldige verlies, ons leef midde ‘n tyd waar die een ramp na die ander die wêreld tref – en dikwels ook vir onsself. Mense wat hieroor nadink praat van die kollektiewe trauma van ons tyd. Ons het soveel verliese wat ons ly: verlies aan ‘n bekende wêreld en ‘n bekende leefstyl, verlies aan veiligheid en geborgenheid, verlies aan sekerhede en waarhede, verlies aan gesondheid, verlies deur die dood van familie en vriende … ons leef regtig in traumatiese tye wat soortgelyk is aan dit wat Israel tydens die ballingskap beleef het.
III
Hoe word hierdie verlies in Klaagliedere hanteer? Watter raad het die boek vir mense wat deur swaarkry en verlies gaan? Ek onderstreep drie dinge.
1. In die eerste plek, sê Klaagliedere, aanvaar die realiteit van die swaarkry en verlies. Dit help nie die Jode ontken dat die tempel verwoes is en die meeste in ballingskap sit nie. Dis nie maar net ‘n slegte droom wat gou sal verbygaan nie. Kyk die verlies in die oë. Moenie in ontkenning leef nie. In krasse woorde beskryf Klaagliedere die realiteit van die ellende, die totale ontreddering van die volk.
Die boek draai nie doekies om nie; die werklikheid van die ellende word klokhelder uitgespel. Meer nog, Klaagliedere sê duidelik dat die gebrokenheid van alles die mens se eie skuld is. Dat die tempel vernietig is, was direk as gevolg van sonde en rebellie teen God. En, dis niemand ander as God self wat die ellende oor hulle gebring het nie. In sy woede en toorn straf God die mens, bring Hy oordeel, verwoes en vernietig God – selfs iets so heiligs soos die tempel word platgeslaan. “God het sy boog gespan, my as teiken opgestel vir sy pyl. Die pyle uit sy koker het Hy in my niere laat indring”, kla die lied.
In ons dag leef ons dikwels in ontkenning. Ons ontken byvoorbeeld dat daar ‘n pandemie is, of dat die klimaat verander, of dat ons lewens bedreig word soos nooit tevore nie. Deur ander te blameer, of aan die strooihelms van wilde samesweringsteorieë vas te gryp, probeer ons die werklikheid ontken. Of ons gryp na vinnige oplossings, of ‘n blinde geloof dat wonderwerke sal gebeur as ons net hard genoeg glo. Punt is, ons leef in ‘n stukkende wêreld vol hartseer en pyn. Die ou wêreld, wat skynbaar idillies en vol sekerhede was, is vergoed verby.
Klaagliedere help ons met ‘n eerste stuk raad: kyk die realiteit in die oë. Moenie so saggies oor alles praat nie, moenie in ontkenning leef nie.
2.Die tweede stuk raad wat Klaagliedere gee: as jy die werklikheid aanvaar, treur dan daaroor. Huil, rou, lament. Ons het in ons moderne wêreld iets daarvan verloor – om te kan treur, om uiting aan ons hartseer te kan gee. Ook in die kerk treur ons nie meer nie; nee, goeie Christene loof en prys net, hoe vroliker hoe beter! Godsdiens het ‘n triomfantlike ding geword. Om te treur is teken van ongeloof, word ons wysgemaak. Ons soek vinnige troos, maklike antwoorde. Ons spring bo-oor die hartseer, bo-oor die kruis, asof daar ‘n opstanding sonder ‘n kruis is. Maar Klaagliedere is vol lament, vol klaagsange en treurliedere – trouens, in die Psalmboek, die Profete en oral in die Bybel is daar talle klaagliedere, eerlike uitinge van hartseer en pyn en verlies.
Dis egter belangrik om raak te sien dat al hierdie Klaagliedere aan die adres van God gerig is. Dit kla by God. Al die ontnugtering en woede en pyn word na God gebring. Dit kla selfs vir God aan. Dis ‘n worsteling met God oor die onverklaarbare van hartseer en pyn: God, hoe kon U die tempel verwoes het! God, hoekom doen U ons dit aan! God, wanneer bedaar U toorn dan! God, ons sukkel om in U te bly glo!
Miskien moet ons as kerke in hierdie dae veel meer doen om ons mense te help treur, deur ‘n rouproses te help oor al die verlies. Anders hanteer mense hulle woede en rou op destruktiewe maniere, kom daar nooit regtig heling nie. Ons moet woorde help gee aan mense se rou, ons moet simbole skep, geleenthede waar ons voor die Here kan treur, soos om as op ons kop te gooi en ons klere te skeur … en dit dan in die Here se teenwoordigheid.
3.Klaagliedere het ook ‘n derde stuk raad: as ons die realiteit van ons ellende raaksien, en daaroor treur, ons klaaglied na God toe bring, dan kom daar tog ‘n stuk heling. In die worsteling met God, in die weiering om God te laat los, breek daar tog ‘n nuwe hoop aan. In die “treur voor God” ontdek ons God se trou, dat dit deur sy liefde is dat ons tot hiertoe behoue gebly het. Met ons gesig nog in die stof, ontdek ons: “Miskien is daar hoop!” Miskien… Dan ontdek ons dis goed om in stilte te bly hoop op die verlossing van die Here, want al begryp ons nie hoekom dinge gebeur nie, hoekom God se toorn soms so woed nie, al is ons hoop huiwerend, dan kan ons nogtans aan hierdie God bly vashou … want iewers, weet ons, gee die Here uitkoms. So deur die trane heen sing die klaaglied so mooi van God se ontferming en genade: “My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy liefde. Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin”. Dis téén sy sin dat ons ly…
IV
Om deur die trane heen te bly vasgryp aan God se ontferming, dit bring egte hoop. Dit is téén God se sin dat ons ly, daarom het Hy sy eie Seun in ons lyding ingestuur – dááraan troos ek my.