Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Derde Advent

Lees Lukas 1:39-56

“Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” (v. 45).

Dit gebeur dikwels dat mense wat groot stories het om te vertel, mekaar opsoek en daardie stories met mekaar deel. As hulle boonop aan mekaar verwant is, is sulke oorvertellings dubbel so lekker. Dan trek hulle – soos net familie dit voor mekaar kan doen – sommer los met ’n liedjie of twee.
Ja, die oorstelpte Maria gaan soek die ouer vrou op, en Elisabet gryp na haar buik – soos swanger vroue maar maak – en roep uit: Haai! Hy het hier binne my beweeg! Hy het jou gehoor, en hy is bly.
En as Maria dit teen daardie tyd nog nie geweet het nie, weet sy dit nou: Wat in haar maagdelike liggaam gebeur het, is iets buitengewoons. Sy sou dan ook sommer begin sing oor “die grootheid van die Here . . . omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het” (v. 46, 49).
Sy sing vir Hom wat reeds geslagte lank na sy mense omsien – en nou ook na haar, een van die geringstes.
Maar wat Maria in daardie stadium slegs kon vermoed, is wat na verloop van twee duisend jaar ’n heerlike feit sou word: dat die “groot ding” wat sy onder haar hart dra, vir altyd en altyd, en tot aan die einde van die tyd, en daarna, onbeskryflike seën aan ’n ganse wêreld sou bring.
Waarvan sy wel goed geweet het, was die sagte aanraking waarmee God van altyd af sy kinders verlos. Én van die harde hand waarmee Hy die hovaardiges en hoogwaardiges platslaan.
Ook daaroor sing sy, die jong meisie wat in daardie dae die groot Onbegryplikheid in haar ronddra. Sy wat God daaroor geglo het en daarmee vertrou.

Ons sing te min. En as ons die slag sing, dan sukkel ons om te glo in wat ons sing. Of, beter gesê: Die woorde van ons lied borrel sommer by ons mond uit sonder dat dit ’n draai in ons hart gemaak het.
Sonder dat dit ons hart raak soos dit die jong Maria geraak het. Sien, ons is lankal nie meer besonder bewus van ons geringheid voor God nie. Ons besef nie die omvang van die wonderwerke wat Hy in en aan ons doen nie.
Ons het selfvoldaan geword. Ál wat ons in ons ronddra, is die beheptheid met ons eie eer. Ons sien na onsself om, sê ons trots. Ons het niks van niemand nodig nie.
Goddank, Hy glo ons nie. Ja, dank die Here dat Hy nie ons verwaandheid ernstig opneem nie. Daarvoor ken Hy ons te goed.

Here, ons raak so dikwels van ons wysie af.
Gee ons die woorde wat U en u werk in ons lewe erken.
En wat u teenwoordigheid in ons hart na behore besing.

 

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.