Epifanie
Lees Matteus 2:1-12
Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys (v. 10-11).
Soos ons broers en susters in ander Christelike tradisies keer ons nou op epifanie-Sondag terug tot een van daardie spesiale Kersverhale – dié van die sterrekykers uit die ooste.
Die sterrekykers se tradisie het hulle geleer dat ’n nuwe ster die geboorte van ’n nuwe koning aankondig – en toe hulle op ’n nag daardie ster raaksien, het hulle die koning kom opsoek, deftige geskenke en al.
Die soektog bring hulle tot in Jerusalem, waar hulle aankoms groot ontsteltenis tot gevolg het. Koning Herodes wil by die plaaslike geleerdes weet: Wat nou! Wie is dié koning? Waar is hy?
Die kenners van die ou geskrifte vertel hom van die destydse profeet se voorspelling dat daar ’n leier uit Betlehem sal voortkom – en dat dít sekerlik die rede is waarom die sterrekykers die hele pad tot hier gekom het.
Toe laat die koning die sterrekykers na hom toe kom, en verkoop ’n slimstorie aan hulle: Laat my weet as julle hom gekry het, beveel hy hulle.
Oplaas lei die nuwe ster daardie sterrekykers tot by die nuwe koning se geboorteplek. Dit het hulle bly gemaak.
In hulle blydskap het hulle voor Hom gekniel, die Kindjie-Koning. En die gepaste geskenke vir Hom uitgehaal – dit wat by ’n Vors hoort.
Met hulle sending nou voltooi, kon hulle teruggaan na waar hulle vandaan gekom het. Maar, soos dit met wyse mense is, bly hulle ore gespits om God se stem te hoor. En toe hulle by Hom verneem dat Hy hulle roete nou gewysig het, het hulle Hom gehoorsaam en dáárlangs huis toe gegaan.
Dit is die ding met wysheid: Jy laat jou leer. Deur die aandrang van jou tradisie, ja, die ryke geskiedenis waaruit jy voortkom en wat jou gevorm en gelei het tot waar jy jou nou bevind.
Wysheid weet hoe om tussen teenstrydige opdragte te onderskei, en weet watter vors se stem die meeste gewig dra.
Wysheid weet ook wanneer ’n Koning sy verskyning gemaak het – al maak Hy Hom in die mees onwaarskynlike gedaante denkbaar aan hulle bekend. Daarom sal wyse manne en vroue altyd voor Hom kniel en hulle beste vir Hom aanbied.
Want dit is ten slotte net wyse manne en vroue wat na die sterre kyk – en weet wanneer hulle iets van God raaksien.
Here Jesus, U is vir my elke nag die blink herinnering aan God se voorsienigheid in my lewe. Betlehem’s Ster, o Wonderlig!
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.