Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

My broer, Tom Berning (kyk foto), was ʼn tweedejaarstudent en sou op Stellenbosch sy teologiese studies voortsit na hy graad op Potchefstroom gekry het. Hy wou reeds van vroeg in sy lewe af predikant word. In 1954 het hy in ʼn ongeluk gesterf, tien dae voor sy 21ste verjaardag. Ek het net verlede jaar, na al die jare, in ʼn stadium gewonder hoe “godsdienstig” Tom was. ʼn Week of twee daarna ontdek ek  “toevallig”  ʼn afskrif van ʼn brief wat hy, ʼn paar dae voor sy dood, aan sy vriendin geskryf het. Ek het toe, na 60 jaar, vir die eerste keer weer kontak met sy vriendin gemaak. Sy het bevestig dat Tom vir haar die brief kort voor sy dood geskryf het. Sy sê verder dat sy altyd onthou dat hy, net voor die ongeluk, in die motor die lied “Nader my God by U” gesing het: “Nader my God by U. Steeds naderby! Al is daar ook ʼn kruis nodig vir my. Dan sal my lied nog bly: Nader my God by U. Steeds naderby!” … Sy sê dit was Tom se laaste woorde!

Tom skryf onder andere in die brief: “As jy dieper dink, hoe moet dit wees om iemand wat jy werklik liefhet, af te gee aan die dood – en dan vir altyd te verlang. Goddank daar is hoop vir ʼn weersiens in ʼn lewe sonder skeiding, verenig met God vir ewig … As ek daaroor dink dan kan ek niks anders doen nie as om net te bid: O! God, U in wie die liefde en geluk volmaak is. U wat sit aan die stuur van ons lewensbootjies, wil U dit veilig stuur deur die rotse heen, oor die diep waters … “

Dit gee mens ʼn baie groot gemoedsrus en blydskap as jy weet dat ʼn geliefde wat gesterf het die Here geken en bely het. Ons kan ook sê: Goddank daar is hoop vir ʼn weersiens in ʼn lewe sonder skeiding, verenig met God vir ewig. Van hierdie hoop skryf Petrus: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop (1 Pet. 1:3). Jesus is ons hoop: Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop (1 Tim. 1:1). Paulus skryf dat ons nie hoef te treur nie, ons het hoop: Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie (1 Tess. 4:13).

Ons glo dat omdat Jesus opgestaan het uit die dood, dit ook met ons sal gebeur: Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem (1Tess. 4:14).

 

Dankie Here Jesus dat U ons hoop is. Amen

Gratis boodskappe maandeliks vanaf gerberning@gmail.com en WhatsApp. Weekliks op die App van CLF (Christelike Lektuurfonds). Besoek https://sites.google.com/site/eposbediening

 

Gert Berning