Vierde Sondag ná die epifanie
Lees Johannes 2:1-12
Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy mag laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom (v. 11).
Dit was sekerlik ’n groot bruilof, daardie dag in Kana – seremoniemeester, kelners, en baie wyn.
Én baie gaste, wat “goed gedrink het” (v. 10). Só goed dat die wyn opgeraak het. Jesus se sorgsame ma merk dit op en gaan vertel Hom dit. En sy weet daar is iets buitengewoons aan ’t kom. Daarom gaan sê sy die kelners by voorbaat aan: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen” (v. 5).
En wat sê Hy nie vir hulle nie! Die enorme groot klipkanne moet eers vol water kom, en dan moet die seremoniemeester daaraan proe.
Niksvermoedend proe hy toe daaraan, en vind dat dit wyn is, van die beste gehalte, veel beter as dié wat die gaste eers aangebied is. En hy takel sommer die bruidegom: Nee, jong! Hoekom het jy die goeie wyn tot nou toe teruggehou?
Dié arme kêrel, wat toe reeds in verleentheid gebring is toe die wyn op sy troue opgeraak het, weet natuurlik van geen sout of water nie. Maar wat, wié gee om? Nou is daar ’n oorvloed wyn – ses kanne vol, waarvan elkeen tussen negentig en honderd liter hou. Dit is ’n oorvloedige seëning deur ’n spesiale gas by die troue.
En eensklaps het dié gas se volgelinge met nuwe oë na Hom begin kyk. En begin glo dat Hy is wat Hy is.
Die ding met ’n bruilof waar daar “goed gedrink” word, is dat jy nie eintlik vir Jesus daar sou verwag nie. Dalk by die plegtige seremonie, daar waar die Vader se Naam genoem word. Maar by die onthaal, die drinkery? Nie sommer nie.
En tog is Hy by die bruilof in Kana. By die partytjie self. En daar verander Hy ’n erge sosiale flater in ’n klinkende sukses.
Daarom is dit jammer dat juis hierdie optrede van Jesus vir so baie van sy welmenende volgelinge nié ’n bron van geloof is soos dit vir sy destydse dissipels was nie, maar juis, paradoksaal, ’n verleentheid. Straks sou dit vir hulle veel beter gewees het as Jesus liefs nie die troue waar daar so “goed gedrink” is, bygewoon het nie. Wat nog te sê die wynvoorraad aangevul het . . .
Daar is wel diegene vir wie hierdie eerste wonderwerk bevrydend is, omdat juis dit vir hulle ’n openbaring is van wie en hoe Jesus is. Soos by sy eerste volgelinge dra ook hierdie optrede daartoe by dat hulle in Hom kan glo. En oortuig dit hulle dat hulle by Hom tuis kan wees, soos Hy by hulle.
Jesus, Here, dankie dat U vir my ’n tuiste bied.
U is soveel meer as ’n gas by my spesiale geleenthede;
U is die Een wat dáár betekenis bring en vreugde gee.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.