CLF - Op reis na stories van hoop

Op reis na stories van hoop

Die verwoestende droogte wat wyd oor Suid-Afrika strek, raak elkeen van ons – direk of indirek. En êrens by ʼn braaivleisvuur, koffie-afspraak of kantoorgesprek waar mense saamkom, is daar bykans altyd gesprekke oor ons land, politiek – maar in die laaste paar jaar veral ook die droogte.

Onmenslike verhale van verliese, sterwende diere, boere wat opgee, oppak, oorgee aan die loop van ʼn vuurwapen, die lus van ʼn tou … dié verhale word deel van ons gesprekke. Maar, daar is ook verhale van hoop … mense wat in ʼn gebroke wêreld begin uitreik na mekaar, konvooie voer wat aangery word van dele wat wel goeie reëns gehad het, iemand wat R10 afknyp om ʼn droogtehulpfonds te ondersteun – want vele tien rande maak dat daar brandstof is vir ʼn vragmotor om ʼn vrag geskenkte voer weg te neem. Verhale van hoop van mense wat te midde van hierdie uitmergelende droogte steeds vasklou aan die belofte van ʼn God groter as enige menslike begrip – dat Hy ons nooit sal versaak nie…

Dit is hierdie verhale wat ons wil gaan haal – by dié mense wat droogte ken … hetsy fisiese droogte van boere wat nie weet waar die volgende voer vir hulle diere vandaan kom nie. Waar eens bossie-wêreld nou verdor het tot semi-woestyn … waar plante so doodgebrand is en hulle glo dat geen hoeveelheid reën eers meer die wortels kan laat herleef nie.

En verhale van harts-droogtes – mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, mense wat in situasies beland het waar dit na ʼn hooplose toekoms gelyk het … mense wat verswelg is deur depressie, mense se verhale van vashou aan ʼn Hoop ver bo verstand … verhale van gehoorsaamheid waar ʼn hooplose situasie van selfmoord die ontstaan van ʼn droogtehulpfonds tot gevolg gehad het wat reeds duisende mense direk en indirek gehelp het. Die verhaal van Burre Burger dien as groot inspirasie tot die ontstaan van die publikasie.

Een goeie “reënval” breek nie die droogte nie … dit is ʼn daaglikse stryd van veg, val, opstaan.

Dit is hierdie stories wat ons in die publikasie Net voor die droogte my breek gaan opteken … verhale wat selfs lank na dié wat se stories vertel is nie meer hier is nie, hoop aan ander kan bring – wat ook al hul “droogte” is …

Anoeschka von Meck gaan deur Suid-Afrika reis om hierdie verhale op te teken. Ons volg haar reis op hierdie blad en op ons Facebookblad. Ons is dankbaar vir ons Skepper wat ons as uitgewer in staat stel om hierdie projek aan te pak met borge en belangstellendes wat ʼn bydrae op watter manier ook al maak. Ons gee graag aan hulle erkenning.

Kom saam met ons op hierdie reis.


Fotogalery:

Oor die skrywer
Anoeschka von Meck

Lees meer


Ons Borge

Nissan Mosselbaai
garden-shed
Ukuyila Design Studio