Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

I

Die teksgedeelte vorm die afsluiting van Jesus se bergrede. Die bergrede was Jesus se bekende preek vanaf die berg in Galilea, later die Berg van Saligsprekinge genoem. Oor die eeue heen is Jesus se uitsprake in die bergrede van die mees aangehaalde verse in die Bybel. Jesus preek hier vir sy dissipels, maar eintlik ook vir ‘n hele skare mense wat nadergekom het om te luister. Matteus skryf spesifiek dat Jesus teen die berg uitgeklim en gaan sit het om te preek. Deur te sit en preek het rabbi’s hul gesag beklemtoon, die belangrikheid van hul woorde. En dat Jesus vanaf die berg gepreek het, het natuurlik ook groot simboliese betekenis. Soos Moses die Tien Gebooie op die berg Sinai uit God se hand ontvang het en dit van daar af na die volk Israel afgebring het, kondig Jesus die grondreëls vir God se koninkryk van ‘n berg af.

Jesus sluit die preek dan af met die beeld oor bouers en fondamente. Daarmee maak Hy ‘n laaste, dringende appèl.

Dis ‘n bekende gelykenis wat Jesus gebruik, waarin Hy twee soorte bouers, of fondamente, met mekaar vergelyk. Die een bouer, die wyse een, het sy huis op ‘n rots gebou – ‘n vaste fondament. Toe die reën kom, die stormwaters en die wind, het die huis stewig bly staan. Die dwase bouer het weer sy huis op sand gebou. Toe die reën, die waters en wind kom, het die fondament weggekalwe en die huis ineengestort – die val daarvan was geweldig!

II

Dis ‘n beeld wat almal kon verstaan. Wat leer dit ons?

In die eerste plek hoor ons hier van storms, watervloede, winde wat waai. Jesus wil sy hoorders daaraan herinner dat ons maar kan verwag dat daar in die lewe storms sal wees. So is die lewe nou eenmaal. Vir Jesus se dissipels destyds sou daar vele storms wees. Dit wat hulle glo van Jesus as die Messias sou beveg en teëgespreek word. Hulle sou verwerp en vervolg word. Hulle sou soos vreemdelinge en bywoners behandel word. Hulle sou begin twyfel aan hul geloof. Om te bly by wat hulle glo sou ‘n prys kos – selfprysgawe. Byna al twaalf van Jesus se dissipels sou uiteindelik ‘n marteldood sterf. Al Jesus se volgelinge sou dit in hierdie wêreld nie maklik hê nie. Die stormwinde sou beslis teen hulle aanwaai. Die vraag was: sou die fondamente die storms kon weerstaan? Sou hul huis staande bly? Is hul huis op rots of op sand gebou? Met dié vraag eindig Jesus dan sy preek.

In die tweede plek moet ons ook vra wat die rots is waarna Jesus hier wys. Wat is die fondament waarop hulle hul huis moes bou? Die rots waarna Jesus hier verwys is spesifiek die woorde, die boodskap van sy preek. Wie na dié woorde luister, en dit gaan uitleef, hulle is soos  mense wat hul huis op ‘n rots bou. Die sand-fondament is natuurlik om nié na die woorde van die preek te luister nie en dit nie te doen nie.

Hierdie rots waarop mense moes bou, die woorde waarna Jesus verwys, was natuurlik nie so ‘n mak, troosryke prekie nie. Dit was radikale woorde. Dit was vreemde woorde wat Jesus daar van die berg af gepreek het, verrassend nuut, ‘n heel nuwe benadering wat alles waarin die luisteraars tot op daardie stadium geglo het, net mooi op die kop gedraai het. Dit het begin met die saligspreking, waarin Jesus vreemde goed gesê het soos dat arms van gees gelukkig is; mense wat treur geseënd is; mense wat weet hoe afhanklik hulle is, gelukkig is, so ook die sagmoediges; dat hulle wat honger en dors na geregtigheid, versadig sal word; dat hulle wat vervolg word  ter wille van sy Naam uiteindelik dié beloning sou kry. Vreemde woorde, wat die bestaande lewensorde en manier van kyk na die wêreld omver gegooi het. Jesus se preek het daaroor gegaan dat sy volgelinge nie moet oordeel of vergeld nie; dat hulle hul vyande moes liefhê; dat hulle nie so bekommerd oor eet of drink of die dag van more moet wees nie. Dit was regtig nogal ‘n radikaal nuwe soort lewensuitkyk. Op dié fondament moet hulle nou hul huis gaan bou as hulle wou staande bly in die stormwinde wat kom – so sluit Jesus sy preek af.

III

Wat sê dié gedeelte vir ons vandag?

Natuurlik verstaan ons in hierdie tyd goed wat die beeld van reën en stormwater en wind wil sê. Ons leef in so ‘n stormagtige tyd. Uit soveel oorde tref die stormwind en watergolwe ons – die aanslae teen ons geloof, die onrus rondom en binne ons, die pandemie, persoonlike terugslae, ons gesondheid … ons hoef nie lank na te dink oor al die storms van ons tyd nie, of die storms in ons eie lewe nie. Ons weet wat dit is. Jesus het gesê dit sal so wees; nooit het Hy belowe dat sy kinders nie in storms sal beland nie.

Belangriker egter is die vraag: maar wat is in hierdie tyd die rots waarop ons kan bou? Die vaste fondament wat ons huis staande sal hou, ongeag die storms? Op watter fondament kan ons ook hierdie gemeente bou? Ek noem vyf fasette van die een rots-fondament waarop ons vandag nog kan bou:

 

  1. God self, die Vader, Seun en Gees, is hier by ons teenwoordig. Daaroor het Jesus se preek destyds ook gegaan: in en deur sy koms aarde toe het God self by ons woning kom maak. En deur die Heilige Gees is die Vader en Seun steeds hier by ons teenwoordig – ook vanmore hier in die erediens. Dit is die fondament waarop ons kan bou: al sien ons God nie, kan ons wéét, verseker weet: God is hier teenwoordig.
  2. Die tweede faset van die fondament waarop ons kan bou is dat hierdie teenwoordige God weet van ons. Hy ken ons bang-wees, ons honger en dors, ons kommer en pyn, Hy weet van die aanslae teen ons. In sy preek, oor die sorge van die lewe, het Jesus verklaar: julle hemelse Vader weet wat julle nodig het. Hy weet van die storms in ons lewe – en Hy is vol ontferming. Hierdie wete dat God wéét, dit is die rots waarop ons kan bou.
  3. ‘n Derde faset van die fondament waarop ons kan bou is die Woord van God. Hy het dit aan ons geskenk. En hierdie Woord is ‘n beloftewoord, ‘n uitnodigingswoord, ‘n genadewoord, ‘n liefdeswoord, goeie nuus – ‘n woord wat ons vry maak en troos, en help om in die vryheid en troos te leef. Dit is deel van die fondament waarop ons moet bou in die tyd van storms.
  4. ‘n Vierde faset is die geskenk van aanbidding, gebed. In sy preek het Jesus sy dissipels die Ons Vader leer bid, ‘n gebed waarin ons gemeenskap met God kan hê, ons harte voor Hom kan uitstort, en kan weet Hy hoor wat ons vra, Hy sal gee wat ons nodig het. Gebed, aanbidding as fondament.
  5. En die laaste fondament: ons het ‘n roeping, ons is geroep om sout en lig in hierdie wêreld te wees. En Hy wat ons roep is getrou. Gehoorsaamheid aan ons roeping is ook soos ‘n vaste fondament; daarop kan ons en kan die kerk gerus maar bou.