deur Susan Goosen
Kersfees is sinoniem met ’n Kersete – ’n feesmaal (of twee), met mooi versierde tafels wat kreun onder die lekkernye. Daar word in baie huise vir weke lank beplan en voorberei aan watertand familie gunstelinge. Ons tof ons tafels op, dek ons mooiste breekware en trek die stoele nader vir lang kuiers saam met geliefdes.
As kinders het ons Kerstyd gesmul aan my ouma se vleisgeregte en gebakte poedings (met ’n paar geldstukkies daarin weggesteek…) Die Suid-Afrikaanse somerweer (en ons helder somer Kersfees) het egter die weg gebaan vir nuwe tradisionele disse, ’n variasie op die warm vleisgeregte en poedings wat met ’n Kersfees in die Noordelike Halfrond geassosieer word. Deesdae geniet ons meestal die skaapboud en hoender koud, miskien saam met ’n ham en ’n verskeidenheid van slaaie. En wat is dan nou beter as roomys of gestolde vrugtepoeding wanneer die kraaie gaap van die hitte.
Al hierdie voorregte maak ons dikwels meer bewus van die nood rondom ons. Daarom deel ons graag hierdie lekker met diegene wat minder het. Sommige kerke deel die dag na Kersfees kosbakkies met Kersfeeskos uit vir mense in plakkerskampe. Ander organisasies reik uit na straatmense, of mense in die tronk, om iets van die vrede en vreugde van Kersfees met minderbevoorregtes te deel. En gewone mense reik op Kersdag ’n hand na eensames, of vriende wat met hartseer herinneringe moet saamleef.
Dit is egter nie net die heerlike kos wat verseker dat ons Kersmaal so ’n magiese bekoring inhou nie. Dit is eerder dit wat nog rondom daardie tafel gebeur. Miskien het dit te doen met daardie spesiale oomblik wanneer familielede, wat mekaar dalk nie gedurende die jaar gesien het nie, aan die tafel gaan aansit. Die dinamika wat telkens plaasvind wanneer mense rondom ’n tafel kuier.
Ons sien mekaar anders wanneer ons oor die breedte van die tafel, so bo-oor ons geurige borde kos, na mekaar kyk. Die interaksie verskil van wanneer ons op die rusbank sit of deur die inkopiesentrum stap. Die feit dat oom Karel en oom Joe nie juis langs dieselfde vuur sit nie, of dat die niggies uit die stad nie van die gebrek aan vermaak op die platteland hou nie, is skielik minder belangrik. Vir ’n uur of wat kan ons vergeet van familietwis en verskille, van dit wat al die heel vakansie aan jou krap. Wat saak maak is die ruimte wat ons rondom daardie tafel skep. Die geurige kos voed ons liggame, soos wat die samesyn ons gees voed. Die saamkuier skep ’n gevoel van behoort, van welbehae, wat soos salf en medisyne is na die vermoeienis van die jaar. Ons sal sekerlik graag ’n bietjie aan hierdie gevoel van welgeluksaligheid wil vashou. Miskien kan ons dit met ons saamdra, dit bottel en dit later, wanneer die nuwe jaar in volle swang is, weer opdiep.
En tog kan elke kuier rondom ’n etenstafel ’n magiese, ’n heilige oomblik wees. Die aand voordat Jesus uitgelewer sou word om gekruisig te word, het daar seker ’n warboel gedagtes deur sy kop gegaan. Hy het immers geweet wat voorlê. Hy het geweet dat sy dissipels, die laaste een van hulle, Hom sou verraai. En tog het Hy besluit om eers saam met hulle te eet. “Ek het lank daarna uitgesien om hierdie maaltyd saam met julle te eet,” het Jesus gesê terwyl Hy die brood en wyn uitgedeel het. “Wanneer julle weer saam eet, moet julle vir ’n oomblik nadink oor dit wat ek vir julle gedoen het.”
Elke maaltyd bied vir ons daardie geleentheid. Midde-in die geharwar van selfs die dolste werksweek, kan ons rondom die etenstafel ons batterye herlaai en nuwe perspektief kry. Elke keer wanneer ons na ’n lang dag by die huis kom, die tafeldoek haastig oopgooi en roosterbrood en vrugte voorsit, het ons die geleentheid om die Vader te dank vir sy voorsiening, om sy seёn oor ons ete te vra. Ons kan mekaar in die oё kyk. Daardeur kan ons sê: “Jy is belangrik, ek is bly jy is hier. Ek wil graag weet hoe dit vandag gegaan het.” En wanneer ons dan, by geleentheid, ’n paar kerse aansteek, die televisie afskakel en na strelende musiek luister, kan ons weer iets van die bekoring, die vrede en welbehae van ’n Kersete ervaar. Ons kan die ruimte rondom ons tafels gebruik om ons huismense te seёn en te verkwik. Net soos met Kersfees, kan ons vra: “Vader, seёn asseblief hierdie ete, en daarmee saam ons samesyn.” En ons kan ervaar hoe Hy dit doen.