Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

“Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde.” – 2 Kronieke 5:1-14

I

Dawid sou graag die tempel in Jerusalem wou bou. Maar God het hom dit nie toegelaat nie. Dit sou sy seun Salomo beskore wees om die tempel te bou. Dawid het egter alles gereed gekry sodat sy seun die bouwerk kon klaarmaak. En nou het Salomo die tempel gebou en kon hulle dit feestelik in gebruik neem.

Hierdie tempel in Jerusalem was vir die Israeliete baie belangrik. Dit was die simbool van God se teenwoordigheid by sy volk, die plek waar hulle God kon kom aanbid, hul offers heen kon bring en ‘n  ware ontmoeting en gemeenskap met God kon hê.

Dit was daarom ook belangrik dat al die ou simbole van God se teenwoordigheid by sy volk ook in die tempel geplaas word. Die Tent van Ontmoeting waarin die volk God in die woestyntog ontmoet en aanbid het, moes binne die tempel geplaas word. So ook al die heilige voorwerpe, die bekers en die offerkomme. En veral ook die Ark, die kis met die twee kliptafels van Moses daarin, as ‘n konkrete herinnering dat God nog altyd sy verbond onthou en sy verbondsbeloftes nagekom het.

II

Hier in 2 Kronieke 5 word nou die mooi verhaal vertel van die feestelike optog toe die ark van God in die nuwe tempel ingedra is. Koning Salomo en die oudstes en al die stamme van Israel was daar. Eers is daar ‘n groot klomp offers gebring. En toe het die priesters die ark opgetel …  Dit was ‘n grootse moment, met ‘n rykdom aan simboliek. Plegtig, gereinig en in linne geklee, die verskillende verteenwoordigers van die volk, die priesters en Leviete, ordelik opgestel voor die groot gerubs wat met uitgespreide vlerke oor die Allerheiligste waak, en die ark op die draaghoute – die oomblik amper angswekkend heilig. Die ark was niks minder nie as sigbare teken van die Here se teenwoordigheid, die Here se “aankoms” in die tempel. Almal het asem opgehou: neem die Here God werklik intrek onder die volk? Kom slaan God regtig tent op, hier tussen ons? Kan dit waar wees!

Ja, dit gebeur, hier voor ons oë! Só het hulle dit toe beleef.

Toe die priesters die ark veilig in die Allerheiligste neergesit het, en weer uit die tempel kom, het die Leviete, die sangers en trompetblasers, die musikante met hulle simbale, harpe en liere, saam met die massakoor soos een man weggeval, en met een stem – op noot – die loflied ter ere van die Here laat opklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie”. En terwyl hulle sing en musiek maak, juis op daardie moment, is die huis van die Here gevul met ‘n wolk. So geweldig groot was die heerlikheid van die Here se teenwoordigheid, dat dit almal in verwondering gelaat het.

III

In die lofliedere van sy kinders is die Here teenwoordig, vul God die ruimte met sy liefde en genade. Langs hierdie Kronieke teks het die groot kerk-musikus J S Bach in sy eie Bybel geskryf: „Bei einer andächtigen Musik ist allezeit Gott mit seiner Gnaden Gegenwart.” “By ernstige, of dan aanbiddingsmusiek, is God altyd met sy genade teenwoordig”

Daarom bly musiek so ‘n belangrike deel van ons aanbidding.  Sonder die skoonheid en vreugde van kerkmusiek, die ryke ervaring om deur sang en musiek saam met ander te aanbid, of om jou biddend en nadenkend in te leef in die woorde en melodieë van bekende ou gesange, kan ons eintlik nie aanbid nie.  Musiek is onlosmaaklik deel van die uitleef van ons geloof, van die gemeenskap van gelowiges; dit help ons om uiting te gee aan dit waarvoor onsself nie altyd woorde vind nie.

Martin Luther was self ‘n opgeleide musikant, met ‘n kragtige tenoorstem. Hy het graag die luit en fluit bespeel. Hy het talle gesange (korale) geskryf en getoonset; die bekendste en mees geliefde sekerlik die Reformasie se “strydlied”: “‘n Vaste burg is onse God” (Ein feste Burg ist unser Gott), gebaseer op Psalm 46. Luther se eerste gesangeboek (Geystliche Gesangbuchlein) is reeds in 1524 publiseer; en in 1526 het sy bekende Duitse Mis in druk verskyn. Net soos die boekdrukkuns gehelp het om die Bybel in mense se eie taal te versprei, so het die publikasie van gesangeboeke met liedere in die volksmond ‘n reuse-invloed op die gang van die Reformasie gehad – deur liedere is die evangelie wyd versprei.

Luther het daarop aangedring dat gesange in elke erediens gesing moet word, want hy was oortuig dat, as die eenvoudige liedere met oorgawe deur die hele gemeente gesing word, dit mense se harte en denke sal open vir die aanvaarding (omhelsing) van die Woord van God. Daarmee het hy die aanbidding en liturgie in kerke vernuwe.

Oor musiek as gawe uit God se hand skryf Luther in liriese toon: “Ek begeer werklik dat alle Christene die lieflike gawe van musiek wat God as ‘n kosbare, waardige en duursame skat aan die mensdom gegee het, sal liefhê en sal waardeer. Die rykdom in musiek is so groots en so kosbaar dat woorde my telkens ontbreek wanneer ek dit bespreek of probeer beskryf … In kort, naas die Woord van God, is die edele kuns van musiek die grootste rykdom in die wêreld. Dit kan ons gedagtes, ons denke, ons harte en ons gevoelens beheer … Hierdie kosbare geskenk is alleen aan ons as mense gegee sodat ons daaraan herinner kan word dat God ons gemaak het vir die uitdruklike doel om God te loof en eer.” Wanneer ‘n eenvoudige melodie en helder, poëtiese woorde verweef word met bykomende stemme wat lustig daaromheen speel en artistieke musikale effekte wat dit versier sodat dit tot fyn kuns verhef word, “herinner dit ons aan ‘n hemelse dans, waar almal mekaar ontmoet in ‘n gees van vriendelikheid, vertroosting en omhelsing.”

IV

Dit is daarom dat die Bybel ons deurentyd aanmoedig om ‘n loflied tot eer van die Here te sing. Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, roep Psalm 96 byvoorbeeld uit, sing ‘n nuwe lied wat al wyer uitkring, waarin ander mense uitgenooi word om saam te kom sing, al die nasies, waar selfs die natuur, die ganse skepping saam ‘n loflied aanhef. “Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin, laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here. Want Hy kom, ja, Hy kom …”

Aan hierdie Here kom die lof toe; Hy is immers die getroue God, wat sy beloftes hou, wat vir ons sorg en ons beskerm, wat aan ons die lewe gee. Hy is die Here aan wie se liefde en genade daar geen einde is nie.

Dit is Hy wat deur sy seun Jesus Christus by ons kom tent opslaan het, en deur sy Gees in ons kom woning maak het … en die ruimtes waar ons aanbiddingsliedere opklink, met sy genadige teenwoordigheid vul.