Lees Matteus 7:24-29

Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig . . . (v. 28).

Die inhoud van Jesus se preek op die berg word in drie hoofstukke in Matteus weergegee (hfst. 5, 6 en 7). En hier, by die afsluiting, vat Hy die drade saam: “Elkeen dan wat hierdie woorde van my hoor en daarvolgens handel . . .” (v. 24). En, aan die ander kant:
“En elkeen wat hierdie woorde van my hoor en nie daarvolgens handel nie . . .” (v. 26).
Die teenstelling is duidelik: Almal het dieselfde preek gehoor – en daar sal diegene wees vir wie dit ’n saak van erns is en wat dan hulle lewe daarvolgens sal rig. Hulle, sê Jesus, bou ’n stewige huis met ’n vaste fondament. En as die storms kom – stortreën, vloedwaters en winde – sal die huis bly staan.
Daar sal ook dié wees wat ná die preek omdraai en voortgaan met hulle lewe, op die ou manier. Hulle, sê Jesus, bou ook ’n huis, maar een wat ’n fundamentele swakheid het. En wanneer die storms dié huis ook tref, sal nóg die huis nóg sy bewoners dit oorleef.
En dan sê Matteus ’n vreemde ding: Dat die hoorders van hierdie eerste preek verbaas was, want dit was anders as hulle predikers s’n. Dié vreemdheid was klaarblyklik nie vanweë ’n soort welsprekendheid of ’n vuur-en-swael-aanslag of as gevolg van allerlei retoriese truuks nie. Nee, dit was as gevolg van die gesag wat sy woorde gedra het.

Dit is die Goddelike gesag wat aan Jesus se woorde verleen word wat ons noop om behoorlik aandag daaraan te gee. Tot God se aanbidding en eer, ja, maar ook ter wille van ons eie oorlewing. Want dat daar gereeld storms kom en dat hulle hewig is en, soos die ou liedjie sê, “woedend om jou slaan”, is ’n ellendige waarheid.
Die koninkryk se kinders is nie van storms gevrywaar nie. Daar
is trouens dié wat daarvan oortuig is dat juis hulle op “die lewen-storme” se radar is, die eerste teiken van die Bose se brandpyle.
Hoekom sou dit wees, hierdie kwesbaarheid? Hulle self-erkende afhanklikheid van God (vgl. Matt 5:3); hulle geneigdheid om die ander wang te draai (vgl. Matt 5:39); hulle gebede dat God se wil sal geskied (vgl. Matt 6:10); hulle gereedheid om te vergewe
(vgl. Matt 6:14); hulle kommerlose lewe in opdrag van hulle Here (vgl. Matt 6:25); hulle huiwering om te oordeel (vgl. Matt 7:1)?
Hoe ook al: God se kinders moenie verbaas wees as die storms hulle, te midde van al hierdie doen en late, oorval nie. Hulle kan hulle wel verwonder aan hulle Here se gesagvolle versekering dat hulle staande sal bly.

Here, ek verstom my oor u trou.
Ek lewe van u troos.
En ek bou op u beloftes.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.