Die Israeliete was slawe in Egipte. Moses het skape opgepas toe God hom stuur om die Israeliete te gaan bevry. Moses het toe vir God gesê: “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? – wat moet ek hulle antwoord? En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur”(Eks. 3:12 – 14). God het gesê sy Naam is: “EK IS”. Dit moes vir Israel dien as ‘n versekering en troos. Daarmee sê God dat Hy nog altyd daar was, dat Hy nou teenwoordig is, en dat Hy altyd daar sal wees. Hy is die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. Hy is die enigste ware God en sy Naam kan nie saam met dié van ander “gode” genoem word, so asof Hy maar net een van ‘n klomp gode (soos in Egipte) is waaruit gekies kan word nie.
God se Naam is “EK IS”. Hy is die ewige, almagtige God, maar Hy is baie meer. Hy is die Here van die vrede (2 Tess. 3:16). Hy is liefde (1 Joh. 4:16). Hy is ryk in barmhartigheid (Ef. 2:4). Hy is die ware God en die ewige lewe (1Joh. 5:20). Hy is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! (Rom. 2:4). Hy is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming (Ps. 46:1). Hy is die rots waar ek kan skuil (Ps. 94:22).
Jesus sê vir die Jode: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Jesus is daar van die begin af tot in ewigheid (Joh. 1:1 – 15). Hy is God, een met die Vader en die Heilige Gees.
Jesus het ook ‘n ander naam vir God gebruik. Seker omtrent ‘n uur voor Jesus gevange geneem is, was Hy in ‘n plek met die naam Getsemane saam met sy dissipels: Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe ‘n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Mark. 14:34 – 36). Dieselfde dag is Jesus veroordeel en gekruisig. Jesus is God, maar Hy was ook volledig mens. Hy het ook seergekry soos enige een van ons. Hy het geweet wat Hy sou moes deurmaak: die spot, die doringkroon, die slae en die kruis. Ook die totale godverlatenheid wanneer Hy ons lyding op Hom sou neem (Matt. 27:46, Matt. 8:17). Daarom was hy beangs. Wanneer Hy dan met God praat, sê Hy: “Abba, Vader”. ABBA is ’n Aramese woord waarmee ’n Joodse kindjie sy pa aangespreek het. “Abba, Vader” wys op die intieme verhouding tussen Jesus en sy hemelse Vader.
God het sy Seun gestuur om ons: los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! (Gal. 4:6). Jesus het aan die kruis vir ons sonde betaal. Daardeur het ons so naby aan God gekom dat ook ons, soos Jesus, Hom nou “Vader” kan noem.
Ons is vir ewig by God, die Alfa en die Omega, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Sy naam is “EK IS”! Jesus is ons Verlosser. Sy Vader is nou ook ons Vader. Vir God se kinders is Hy “Abba”, ons Vader.
Ons ewige hemelse Vader, dankie dat ons deur Jesus se verdienste aan die kruis, kinders van U is. Dankie vir wie U is. Amen.