Die skildery deur Lynn Yoder (kyk foto), met die titel “His Tears”, is veel meer as net ʼn prent. Lynn het dit in ʼn tydperk van groot pyn en emosionele probleme geskilder. Gedurende dié tyd het hy meer as ooit oortuig begin word daarvan, dat God saam met hom in sy pyn ly. Jesus het simpatie met ons in ons pyn omdat Hy self pyn ervaar het toe Hy vir ons sondes verag, gegesel en gekruisig is.
God hou nie boek van ons sondes nie – Hy hou boek van ons trane. Geen traan wat ons stort gaan ongemerk by God verby nie: U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken (Ps. 56:9). God het meegevoel met sy kinders. Hy voel jammer vir hulle. Hy deel in hul leed en huil saam met hulle. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps. 103:13). Toe Jesus sy vriende besoek nadat hul broer, Lasarus, gesterf het, lees ons: Jesus het gehuil (Joh. 11:35).
Die rooi oë (baie dof, links bo), wat vanuit die agtergrond van die skildery staar, verteenwoordig die bron van die leuens. Indien hierdie leuens geglo word, kom baie negatiewe emosies na vore. Lynn skryf: “Satan en sy bose demone wil my oortuig dat ek nie die pyn sal kan verwerk nie; dat God nie langer vir my omgee nie; en dat Hy my verlaat het. Hulle vertel my dat ek nie langer die lewe sal kan geniet nie, behalwe as omstandighede verander. Deur hierdie leuens te glo het ek meegehelp om platgeslaan te word. As ek voortgaan om hierdie leuens te glo, kan ek deur die gevolglike negatiewe emosies oorweldig word. Ek kan my pyn uitrek en toegee aan depressie en selfbejammering. “Hy (die duiwel) was van die begin af ’n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ʼn leuenaar en die vader van die leuen” (Joh. 8:44).
Lynn skryf verder: “In stede daarvan moet ek die waarheid van God se liefde my eie maak en myself voortdurend aan sy waarheid herinner wanneer my negatiewe emosies gevaarligte laat flikker. Ja, ek maak steeds foute deur leuens te glo. Ek ly daardeur. Nogtans kan ek God se voortdurende vergifnis aanvaar. Ek kan opstaan en voortgaan in oorwinning en geluk wat God vir my geskep het. Hoewel die omstandighede nie heeltemal sal verander nie, bring die wete dat Hy saam met my ly, gemoedsrus. Ek bid dat, waar afbeeldings van hierdie skildery ook al mag hang, hulle sal help om die harte en verstand van gelowiges en nie-gelowiges oop te maak vir die liefde van God en die erns van die geestelike oorlog wat ons elke dag moet voer.”
Lynn het ondervind dat alhoewel God moontlik nie sy pynlike situasie sal verander nie, God hom beslis nie in die steek gelaat het nie. ʼn Ouer kry seer wanneer sy of haar kind seerkry. God sê dat ons Hom “ons Vader” moet noem. As ons Vader voel Hy die pyn wanneer sy kinders seerkry.
God, dankie vir u genade; dat U ons só liefhet dat U seerkry wanneer ons ly. Amen.
Gert Berning