Forgiveness

Vergifnis

Vergifnis was nog altyd ’n tameletjie. Ons sondige natuur hou veel eerder vas aan die Ou Testamentiese beginsel van ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand. Van kleintyd af is dit nou maar eenmaal in ons aard om wraak te neem. As iemand jou seermaak deur jou te skop, dan moet jy harder terugskop. As ouers hulle kinders nie oor vergifnis leer nie, word ’n klein misstap van een persoon beantwoord met volskaalse woede.

Weerwraak is diep in die natuur van die mens gewortel. Terwyl vergifnis ’n belangrike beginsel van die koninkryk van God is, is vergelding deel van die konin-kryk van die eie ek. Soos met alle sondes, is daar ook hier ’n stryd tussen ons wil en God se wil. Ook hier moet ons erken dat ons onwilligheid om te vergewe, ’n sonde is. In ons traagheid om te vergewe, stel ons onsself bloot vir die vyand, die Bose, se werking in ons lewens.

Wat is vergifnis?

So baie van ons natuurlike onwilligheid om te vergewe lê daarin dat ons nie regtig verstaan wat vergifnis is en waaroor dit eintlik gaan nie. Die volgende stellings sal dit duideliker omskryf: Vergifnis gaan nie in die eerste plek oor die ander persoon nie, maar oor my eie verhouding met God. Vergifnis is ’n duidelike opdrag van God aan sy kinders. Vergifnis is nie ’n iets wat sommer net eenmalig, byvoorbeeld in ’n ritueel, afgehandel kan word nie; dit is ’n proses wat deurgewerk word. Dit is deel van ’n leefwyse. Slegs opregte vergifnis, van harte, bring bevryding.

Wat leer die Bybel oor vergifnis?

In die gesprek tussen Petrus en Jesus in Matt 18:21–35 leer ons veel oor vergifnis: Petrus vra vir Jesus hoeveel keer hy moet vergewe as iemand teen hom sondig. Die vraag kan uit twee hoeke verstaan word: As iemand teen my sondig, hoeveel keer moet ek hom/haar vergewe vir hierdie daad? Tot sewe keer? Wat gebeur dan na die sewende keer? Jesus antwoord egter: tot sewentig maal sewe keer! Die antwoord lê nie in die eindgetal van 490 nie, maar in die simboliese waarde van die getalle wat totaliteit of voltooidheid aandui. Met ander woorde: vergewe totdat jy heeltemal vergewe het. Sommige verklaarders lê egter ook die klem op die vraag: hoeveel keer kan ’n persoon sondig voor ek kan ophou vergewe? Die antwoord bly dieselfde: moet nie ophou vergewe nie.Ongeag van die hoek van die vraag bly Jesus se antwoord dieselfde.

In dieselfde Skrifgedeelte versterk Jesus sy antwoord deur ’n verdere gelykenis te vertel. ’n Man het die koning meer geld as wat hy in sy leeftyd kon terugbetaal, geskuld. Toe die koning sy geld eis en die skuldenaar vra vir ’n geleentheid om af te betaal, het die koning besef dat die skuld te veel was en hy het dit afgeskryf.

Hierdie selfde man ontmoet toe ’n mede-amptenaar wat hom kleingeld skuld. Hy eis sy geld met geweld. Die mede-amptenaar vra ook om uitstel en ’n afbetalingsooreenkoms, maar die man wil sy geldjies dadelik hê. Toe hy nie sy skuld gevorder kry nie, laat hy die mede-amptenaar in die tronk stop, totdat hy sy skuld kon betaal. Die koning kom toe hiervan te hore en laat roep hom en sê: “Toe ek jou alles wat jy in ’n leeftyd nie kon afbetaal nie, kwytskeld, kon jy nie eens jou broer genade betoon wat jou kleingeld skuld nie.” Toe laat die koning die skuldenaar ook gevange neem, en hy gee hom oor aan die martelaars, totdat hy sy skuld kon betaal.

Dan kom die sleutelvers, vers 35: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” Duidelik uitgespel: as julle nie mekaar met julle hele hart vergewe nie, moet dan nie verbaas wees as julle selfs fisies ly nie.

Hoekom dan so hard? Hoekom is God so ernstig oor hierdie saak? Die antwoord lê in die Evangelieboodskap oor genade en vergifnis.
As ons op ons eie voete met ons beste dade voor God moes staan, sou ons soos vuil wasgoed en strafbaar met die dood voor God wees. In sy groot genade kom God egter en gee sy Seun as dié Offer wat ons vryspreek van skuld. Sy bloed kom was ons skoon. God vergewe sonder enige voorvereistes, sonder ’n eis van terugbeta-ling (restourasie), weerwraak of enige verdere straf. Hy vergewe onvoorwaardelik, heeltemal. Omdat Jesus volledig namens ons die prys betaal het, word ons nou mede-erfgename van die Koninkryk van God. In plaas van die ewige hel, ontvang ons die ewige lewe, sonder dat ons dit verdien. Dit is verniet vir ons, want die prys wat God betaal het was voldoende: Hy het immers die hoogste offer gebring!

In die woorde van Jesus is dit duidelik dat God kwaad raak as ons nie dieselfde genade wat ons ontvang het, weer aan ander betoon nie. Ons onvermoë en onwilligheid om te vergewe is ’n duidelike aanduiding dat ons nie verstaan wat Jesus vir ons aan die Kruis gedoen het nie.

Wat daarvan as daar ’n baie groot onreg aan my gedoen is?

Maak nie saak wat aan jou gedoen is nie, hoe groot die onreg is nie, die waarheid is: Jesus het deur sy Kruisdood ook daarvoor reeds betaal. Jou oortreder is klaar vergewe, toe Jesus daar op Golgota vir al ons sondes, en vir ander s’n, gesterf het. In 1 Johannes 2:3 staan daar: “Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir die van die hele wêreld.” Dit wat ek gedoen het, dit wat ek nou doen en dit wat ek nog gaan doen is alreeds vergewe. So ook die een wat teen my gesondig het.

Wat gebeur as ons nie vergewe nie?

Deur nie te vergewe nie, plaas ons net ’n skans tussen ons en God. Dit versteur ons verhouding met God. Dit word soos ’n sonde teen God, want om van harte te vergewe, is ’n direkte opdrag van God. Maar ons weiering om te vergewe bring ook pyn, bitterheid en gevangeskap in onsself. Dis soos ’n klip wat in ons harte kom lê en net al hoe swaarder word. Dit trek ons hele lewe skeef, dit verdryf die vrede en vreugde uit ons harte. Slegs vergifnis kan ons hiervan bevry.

Hoe kom ons dan vry van hierdie gevangeskap van pyn?

Om net ewe maklik almal voor die voet te vergewe, gaan nie regtig help nie. Nie as my hart nog nie daaragter sit nie. Om net met jou kop en met jou mond te vergewe, handel die saak nie regtig af nie. Die pyn word daarmee nie nog nie verwerk nie. En die hart beleef nie bevryding nie. Vergifnis is nie net ritueel of ’n eenmalige aksie nie. Jesus sê: sewentig maal sewe keer – totdat dit klaar is! Dit beteken dat ek meer as eenmaal moet vergewe, moet aanhou vergewe, selfs vir ’n enkele oortreding. Wanneer is dit dan klaar?

Wanneer ons van harte vergewe het!

Dit gaan dus om ’n proses:
Dit begin waar ek in ’n daad, deur my woorde of met ’n ritueel vergewe. Dit is nodig.
Maar dan moet die skade aan my hart nog eers heelgemaak word. Ons kan slegs van harte vergewe as ons weet wat in ons harte gebeur het as gevolg van die oortreding teen ons. Daardie daad en die pyn moet eerlik bely word by die Kruis van Jesus. Onthou Jesus het nie net gesterf vir sondes wat ons pleeg nie maar ook vir sondes wat teen ons gepleeg is. Daarom moet ons eerlik vir Jesus vertel wat gebeur het en hoe ons daaroor voel.
Ons moet dit ook in woorde probeer uitspel, in die teenwoordigheid van broers en susters wat ons vertrou. Natuurlik is dit nie maklik om openlik te praat oor die pyn in ons harte nie. Wanneer ons die diepte van die pyn blootlê en die diepte van die seer weer beleef, dan gaan ons ook eerlik moet wees oor die onwilligheid om dit alles te vergewe.
As ons nou verstaan wat dit beteken om regtig te vergewe, moet ons ’n keuse maak om gehoorsaam te wees aan God se opdrag en om Hom te vertrou. Rom 12:19 sê dat ons nie self wraak moet neem nie, maar vir God moet vertrou. Hy is regverdig; dit is Hy wat sal vergeld!

Erken en bely jou onvermoë of onwilligheid om te vergewe. Kies dan om in gehoorsaamheid te vergewe en vra die Een wat dit alreeds gedoen het, om jou te help. Die oomblik wat jy dit alles laat in die hande van Jesus, sal jy regtig kan rou oor die verlies of seer en in die proses diepgaande genesing verkry. Hier moet kans gegee word vir die Heilige Gees om regtig in jou hart te werk. Bely dan alle sondige reaksies soos kwaadpraat, bitterheid, ver-ontreg voel, ens.

Twee dinge het nou gebeur: Jy is eerstens bevry van die pyn wat die onreg in jou eie hart veroorsaak het. Dit beteken nie dat God later dalk weer ’n dieper seer sal openbaar, as daar wel nog ’n dieper wond is nie. Maar dan volg jy maar net weer die proses, totdat jy met jou hart vergewe het.

Tweedens is die weg nou gebaan dat God ook in die oortreder teen jou se hart werk – en selfs miskien weer die verhouding tussen julle kan herstel.

Share this post