Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Lees Lukas 8:42b-48

Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het” (v. 46).

Is daar iewers ’n troosteloser prentjie as dié van die vrou met die siekte wat sy twaalf jaar lank moes verduur? Daardie arme mens met die skynbaar ongeneeslike, intieme kwaal wat haar hele lewe in beslag geneem en haar in ʼn geldelike verknorsing laat beland het.
Ja-nee, sy hoort in die liga van die geplaagdes in die Ou Testa-ment, die groteske melaatses, al die ander onreines . . .
Haar onreinheid laat haar nie toe om op straat te verskyn nie; sy moes dus die ellende in haar lyf so goed moontlik wegsteek. Wie weet wat die wetgeleerdes en hulle trawante met haar sou aanvang as hulle moes uitvind dat sy willens en wetens die allerheilige reinheidswette oortree?
Maar Jesus van Nasaret is op pad, en Hy is haar hoop. Dalk haar laaste kans. Sy durf Hom egter nie konfronteer nie, nie sommer vra dat Hy haar asseblief moet genees nie. Beslis nie daar voor almal nie. Buitendien is haar woorde seker ook lankal op.
Daarom staan sy bietjies-bietjies nader. In die gedrang sal niemand haar opmerk nie. Al die oë is tog op Hom, die rabbi uit Nasaret. Die een met die genesingskrag.
Die Een aan wie se kleed sy tot elke prys moet raak. Al is dit bloot van agter af, sodat niemand oplet nie. Sy moet net naby genoeg aan Hom kom dat sy haar hand kan uitsteek en aan
Hom raak.
Niemand sal dit tog agterkom nie, niemand nie – behalwe Hy, die Een wat voel hoe daar krag van Hom uitgaan. Die Een wat uiteindelik sou sê haar geloof het haar gered. Haar geloof, ja . . .

Lyk geloof dan só?
Net ’n skugter, desperate hand wat uitgesteek word na Een wat asseblief moet help? Is geloof dan nie iets veel kragtiger nie? ’n Aksie wat met gloed en oortuiging gepaard gaan nie?
Klaarblyklik nie. Nie volgens Jesus nie. Trouens, Hy beskou die vrou se geloof as só sterk dat dit haar red.
As dit dan só is (en wie sal dit waag om van Hom te verskil?), dan is die geloofslewe vir koninkrykskinders darem baie eenvoudiger as wat ons gedink het of wysgemaak is.
Dan is geloof niks meer nie as ’n uitgestrekte hand. ’n Erkenning, al is dit woordeloos, van jou afhanklikheid van die enigste Een wat genoeg krag het om daarvan vir jou te gee.

Here, hier is ek ook.
Hier is my hande.
Kyk, ek strek dit na U toe uit.

Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Kliek hier om te bestel.