Vrygemaak … deur ’n God wie se beloftes hoop bied

Die Reformasie – 500 jaar

Op 31 Oktober 1517 het ’n jong Rooms-Katolieke monnik, Martin Luther, volgens oorlewering ’n protes-skrif met 95 stellinge teen ’n deur van die Kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland vasgespyker. Luther wou met dié daad ’n gesprek begin oor wat hy as wanpraktyke van die kerk van sy dag gesien het. Hy het dit veral teen die sogenaamde aflaatstelsel gehad – ’n praktyk waarvolgens ’n mens vryspraak of vermindering van straf in die hiernamaals kon koop. Vir Luther het hierdie praktyk (wat berus op die idee dat jy God se guns kan koop) teen die boodskap van die evangelie ingedruis, en het hy hom sterk uitgespreek teen die feit dat die kerk ter wille van geldelike gewin en ten koste van die armes hiermee voortgaan. Nee, sou Luther voortaan al hoe duideliker argumenteer, ons verlossing word alleen deur God op grond van die geloof in Christus in genade aan ons toegesê.

Na 31 Oktober 1517 het Luther se gedagtes soos ’n veldbrand deur Europa versprei, en die nuwe tegnologie van die boekdrukkuns (waarvan die impak vergelykbaar met die internet vandag is) het geen geringe rol in die verband gespeel nie. In die proses het ’n beweging begin wat as die 16de-eeuse Hervorming (of Reformasie) bekend sou staan. Die impak van die Reformasie kan moeilik oorskat word. ’n Onlangse boek van die historikus Martin Marty het daarom nie verniet die titel October 31 1517: Martin Luther and the Day that Changed the World. Of hierdie veranderinge alles ten goede was en is, word wyd betwis, maar dat die Reformasie ’n kragtige impak op die Westerse sosiale en kerklike lewe – ook in Suid-Afrika – gehad het, is gewis.

Gegewe die feit dat 31 Oktober 1517 as simboliese merker vir die begin van die Reformasie gesien word, vier Protestantse kerke wêreldwyd in 2017 hulle Reformatoriese erfenis. So ’n herdenkingsjaar bied beslis die geleentheid om opnuut na te dink oor die evangeliese impulse wat tot die hart van die Reformasie behoort. As ons die Reformasie in 2017 herdenk, is dit belangrik om te onthou dat daar ook rede is om te treur oor die versplintering van die een liggaam van Christus in verskillende kerkgroeperinge, ’n verskynsel wat in die nadraai van die Reformasie sterk toegeneem het. Luther wou beslis nie die kerk skeur nie; hy wou dit hervorm en vernuwe. ’n Gees van selfondersoek, belydenis en verootmoediging is dus gepas, asook gepaardgaande gesamentlike vieringe wat ’n ekumeniese karakter dra. Die Reformasie-viering bied beslis ook die geleentheid om in dankbaarheid terug te kyk na die manier waarop die evangeliese boodskap van redding en vryspraak uit genade alleen op ’n kragtige wyse in die fokus gekom het. En om na die implikasies daarvan vir vandag te vra.

Vrygemaak!

Die oorkoepelende tema vir hierdie reeks pamflette is “Vrygemaak!” Dit is ’n gepaste tema, aangesien die Reformasie gesien kan word as die herontdekking dat ons uit genade deur Christus vrygemaak is. Die
Reformasie – sou ons kon sê – was ’n bevrydingsbe-weging. Ons is vrygemaak van die sonde en skuld, vry van verlammende moralisme, vry van die verknegting aan onderdrukkende sisteme. En ons is ook vry-gemaak vir ’n lewe waarin ons met vreugde en verantwoordelikheid vir God, ons naaste en die res van die skepping dien.

Sommige Luther-kenners wys daarop dat ’n mens Galasiërs 5:13 as ’n motto vir Luther se teologie kan gebruik: “Julle is tot vryheid geroep.” Hierdie vryheid is nie ons eie prestasie nie, maar word in Christus aan ons toegesê. Ons is vrygemaak. Ons is vry omdat God uit vrye guns in Christus en deur die Gees vir ons bevryding skenk. Dit is die hart van die leerstuk van die “regverdiging deur die geloof alleen” – ’n leerstuk wat al beskryf is as die leerstuk waarby die kerk staan of val. Kort voor sy dood skryf Luther, terugskouend oor sy lewe en teologie, dat hy as jong persoon die frase “God se geregtigheid” gehaat het. Hy het hierdie beskrywing veral met God se straf in verband gebring. God is die regverdige Regter wat oordeel, en dit het vir Luther beteken dat daar in die lig van sy eie sondigheid nie vir hom enige hoop is nie. Hy verdien die straf van God. Maar met die lees van die Skrif (ondermeer tekste soos Romeine 1:17) het Luther hierdie idee van God se geregtigheid anders begin verstaan. God se geregtigheid beteken dat God ons regverdig verklaar, vrylik en uit genade . Hierdie ontdekking (“die regverdiging deur die geloof alleen”) was vir Luther soos ’n nuwe geboorte en hy skryf dat hy hierna die gevoel gehad het dat die deure van die paradys vir hom oopgegaan het. Tot die hart van Luther se teologie behoort dus die vreugdevolle oortuiging dat God ons in Christus vryspreek. Die regverdiging kom van buite ons (iustititia externa). Dit handel nie met ons volgens ons verdienste nie, en daarom is dit as “vreemde geregtigheid” (iustitita aliena) vir ons goeie nuus. Ons is inderdaad vrygemaaktes – uit genade!

Luther het geworstel met die vraag: Hoe kry ek ’n genadige God? En in die proses het hy ontdek waar hierdie God te vinde is, naamlik in Skrifgetuienis aangaande die evangelie dat ons deur geloof in Christus uit genade vrygespreek word. Daar word vertel dat toe Martin Luther die spelling van sy naam van Luder na Luther verander het, hy daarin die Griekse woord vir vryheid (eleutheria) ontdek het. Dikwels het hy dan ook sy naam geteken as Eleutherius, “die vry een” of “die bevryde.”

Vrygemaak deur ’n God wat ryk is aan beloftes

Ons is vrygemaak! Dit is die boodskap van die evangelie, en dit is die boodskap wat Luther (soos ander ook voor en na hom) op ’n kragtige manier in sy tyd, en met implikasies vir sy tyd, herontdek het.

Daar is sekerlik die gevaar dat ons goedkoop oor vrymaking kan praat. In die proses onderskat ons die krag van onderdrukking en verknegting in ons eie lewe en in die van ander. As ons vandag oor vryheid en vrymaking praat, dan doen ons dit meestal in kontekste waar die vryheid van mense en gemeenskappe bedreig word, midde-in ervarings van vasgelooptheid, moedeloosheid, asook van onderdrukkende politieke en ekonomiese en selfs kerklike sisteme wat mense se menswaardigheid bedreig en die vreugde uit hulle pers.

Luther was deeglik bewus van die feit dat die boodskap van die vryspraak na ons kom midde-in die swaarkry wat ons beleef. Luther het in die verband dikwels van die aanvegtinge gepraat wat hy beleef het. Tog het hy in hierdie situasie bly praat oor die feit dat ons lewe gegrondves is in die beloftes van God. As ons oor vrymaking praat, is dit in die eerste plek belangrik om raak te sien wie die God is wat ons in Christus vrygespreek het. Vir Luther was die antwoord duidelik: Ons is vrygemaak deur die God wat ryk is aan beloftes en wie se beloftes wat ons toegesê word betroubaar is. Die Bybel is vol van hierdie beloftes. Luther sou telkens verwys na beloftes soos: “Ek is by julle al die dae”, “Jou sondes is vergewe” en “Dit is my liggaam … gegee vir julle.”

Hierdie beloftes het ’n skeppende krag. Hierdie woorde kom van buite ons na ons toe. Geloof is om God se beloftes toe te eien. Soos Luther dit gestel het: “Die taal van geloof praat soos volg: Ek glo U, Here, wanneer U spreek.”

Om hoopvol as vrygemaaktes vanuit God se beloftes te leef

In die evangelie gaan dit dus oor die belofte (promissio) van God. Ons aanbid ’n God wat beloftes maak, en aan hierdie beloftes getrou is. Dit is die gedagte waarop Luther sy teologie gebou het. Te midde van ons eie swaarkry kan ons na God roep met die wete dat hierdie God ’n God is wie se beloftes van sorgsame en bevrydende teenwoordigheid betroubaar is. Ons hoop is nie in ons eie krag, ons eie persoon, ons eie gewete, of ons eie sintuie geleë nie, maar is buite onsself (extra nos) in die belofte-woord van God gegrond. Dié God mislei nie mense nie.

Luther het nie op ’n goedkoop manier oor hoop geskryf nie. Hy het dikwels gewys op die persoonlike belewenis van die spanning tussen God se beloftes en wat hy “hierdie huidige winter” genoem het. Maar dit is juis in hierdie spanning waar ons hoop op grond van die belofte van God ontspring, selfs al is dit ons ervaring dat ons in die wildernis is of dat God afwesig voel. Jacqueline Bussie vat Luther se gedagtes oor hoop treffend saam: “Luther makes clear the both-and character of hope. Both the world is filled with inexplicable suffering and the world is filled with inexplicable grace. God appears to be forcefully present and at times excruciatingly absent. God is love and life is horror; the Christian life is a curious mixture of terror and triumph, embrace and absence, laughter and loss.”

Midde-in hierdie ervaringe van die diepte van menswees kom die skeppende woord van God se beloftes na ons met ’n boodskap van hoopgewende bevryding. Geloof beteken om toe te laat dat die krag van hierdie woord oor ons spoel.

Betekenis vir vandag?

Maar wat, sou ons kon vra, beteken hierdie idee van vrymaking vir ons vandag? Baie mense sal tereg kan sê dat ons in ’n ander tyd as Luther leef. Ons is nie bang vir die straf van God soos die mense tydens die Middeleeue nie. Ons vrees nie die geregtigheid van God soos Luther dit gevrees het nie. Ons vraag is dalk nie soseer “Hoe vind ek ’n genadige God?” nie, maar eerder “Waar vind ek ’n genadige medemens?” Tog kan die boodskap van vrymaking en die regverdiging deur die geloof alleen opnuut versterkend en hoopgewend wees. Ook vandag leef mense met vrae soos:
Is ek goed genoeg? Voldoen ek aan die verwagtinge? Hoekom word ek misken? Hoe leef ek te midde van werkloosheid, armoede of marginalisering? Wat maak ek met my angs vir siekte of die dood?
Te midde van hierdie vrae en ervaringe kan ons ook vandag die woord hoor: Ons is vrygemaak. En hierdie woord kan in die geloof as ’n bevrydende waarheid aanvaar word omdat dit op die betroubare beloftes van God gegrond is. Daarom het ons hoop, ’n hoop wat groter is as ons vrees en angs, en wat ons bekragtig om liefde uit leef.

Prof Robert Vosloo

In 2017 word die 500-jarige herdenking van die Reformasie wêreldwyd gevier. Daar word teruggekyk in die geskiedenis, maar tegelyk ook gevra na die betekenis van die Reformasie vir die hede. Hierdie beweging het simbolies begin toe Martin Luther in 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Die grootste gawe van die Reformasie was die terugplasing van die Bybel in gewone gelowiges se hande en die verkondiging van die goeie nuus dat Christus ons deur genade verlos, wat ons deur geloof ontvang. In die herdenking van die Reformasie vier ons God se goedheid en guns. Alles tot eer van God! CLF het ʼn reeks pamflette ter viering van Reformasie 500 gemaak. Dit is beskikbaar in Afrikaans en Engels.

Share this post