Vrygemaak om in geloof anders te kan kyk

Vrygemaak om in geloof anders te kan kyk

Kameras en selfone laat ons die wêreld anders sien

Bykans alle mense het vandag ʼn selfoon met ʼn kamera. En alles word afgeneem: mense en honde en sonsondergange en blomme en klippe. Almal neem die hele tyd foto’s. Dit was nie so twintig jaar gelede nie. Daar was kameras en mense het foto’s geneem, maar die ganse lewe was nie ʼn foto-geleentheid nie. Min mense besef dat hierdie kamera op ons selfoon die wyse waarop mense na mekaar en na die wêreld en selfs die werklikheid kyk, radikaal verander het.

Vandag kyk mense anders na die wêreld en sien ʼn klip of ʼn blom of ʼn traan of ʼn glimlag wat hulle andersins nie noodwendig sou opgemerk het nie. En meer as dit, hulle soek voortdurend die beste blik op daardie klip. Die hele lewe word so ʼn foto-neem-geleentheid en gevolglik kyk mense anders en sien hulle dinge wat hulle andersins nie sou gesien het nie. Emile Zola het opgemerk dat jy nie daarop kan aanspraak maak dat jy al iets gesien het, indien jy dit nog nie afgeneem het nie. Sonder daardie selfoonkamera in hulle sak, sou baie mense nooit eers na daardie klip of blom of glimlag of traan gekyk het nie, maar nou kyk hulle voortdurend rond op soek daarna totdat hulle dit sien.

Ja inderdaad, dit wil voorkom asof iets in die laaste dekades gebeur het. Eintlik het dit al byna tweehonderd jaar terug reeds gebeur met die uitvinding van die kamera. Sedert die eerste kameras het die wyse waarop mense na die wêreld kyk baie verander. Aanvanklik was kameras net vir enkele uitverkorenes beskore wat so ʼn duur instrument kon bekostig. Vandag, weens ʼn hele tegnologiese revolusie, het almal ʼn selfoonkamera en al wat ons moet doen om ʼn foto te neem, is om so rofweg te mik en te druk. Die punt is, die kamera het deel van ons alledaagse bestaan geword en diepgaande beïnvloed hoe ons na die wêreld kyk.

Die Reformasie het ons ook nuut leer kyk

Maar 2017 is nie die jaar waarin ons die uitvinding van die kamera vier nie, wel die jaar waarin ons die Reformasie herdenk.

 Boekdrukkuns en Bybelvertaling laat ons anders kyk

Die Reformasie in samehang met die ontdekking van die boekdrukkuns, het ʼn vergelykbare invloed op mense gehad soos die uitvinding en verspreiding van die kamera, alhoewel die Reformasie meer diepgaande was. Met die uitvinding van die boekpers in die Weste deur Gutenberg in die loop van die vyftiende eeu, het dit moontlik geword om kopieë van geskrifte deur middel van ʼn boekpers te vermenigvuldig. Gevolglik was daar meer boeke en meer mense wat in aanraking kon kom met hierdie boeke wat uiteraard die Bybel ingesluit het. In hierdie tyd het ook verskeie Bybelvertalings in tale soos Duits en Engels en Frans die lig gesien wat moedertaalsprekers beter kon verstaan as Grieks of Latyn. Soos die kamera mense anders laat kyk na die wêreld, net so laat die verhale van die Bybel mense ook anders kyk na die wêreld. Soos selfone deur tegnologiese revolusie versprei het, so het Bybelkennis deur die drukpers en vertalings en onder die invloed van die Reformasie versprei. En mense is vrygemaak om anders te kyk, om deur die raam van die Bybel te kyk en opnuut ontdekte geloofswaarhede raak te sien.

 Ons sien die skepping soos ʼn mooi boek

Soos die kamera die wêreld raam in die voortdurende soeke na wat ek en jy dink “mooi” is, net so raam die Bybel die wêreld met wat vir God “mooi” is. In die tradisie van die Reformasie kan ons nie sê dat ons al iets gesien het, as ons nog nie deur die kamera van die Skrif daarna gekyk het nie. Dan sien ons in die woorde van Elisabeth Eybers, “onderwater webbe roer”. Dan sien ons in die woorde van Jesaja, ʼn takkie wat uitspruit uit ʼn afgekapte stomp. Dan sien ons in die woorde van artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die skepping voor ons oë soos ʼn mooi boek. Dan sien ons in die woorde van Lukas in die Emmaus-verhaal, die opgestane Here Jesus in broodkrummels. Ons sien, in die woorde van profete soos Martin Luther King Jnr, Johannes die Doper en Jesaja, dat heuwels gelyktes word, elke koppie ʼn vlakte. Sommige kyk terug en sien, sien dat die “meer” van God in die verlede om en by hulle was. Maar daar is ook die wolk van getuies van Hebreërs wat in die toekoms inkyk, wat uit die verte gekyk het, met geloof gekyk het en dus ook as swerwers op aarde ʼn beter vaderland gesien het. Deur die lens van die Skrif kyk ons as gelowiges om ons, maar ook terug en vorentoe en word ʼn deel van die wolk van geloofsgetuies wat deur die eeue heen strek.

Ons sien “God die Digter” in sy skepping

Susan Sontag vergelyk die wyse waarop fotografie die mens geleer het om intensief te kyk met moderne poësie en nie noodwendig die skilderkuns nie. Volgens haar is dit by uitstek die digters wat ons help om te kyk, om dieper te kyk, anders te kyk en meer te sien. Volgens TT Cloete is God ʼn digter. In “God die digter” skryf Cloete:

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomologie

in die moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ʼn digter gemaak

Die Reformasie het verstaan, die wêreld is deur ʼn Digter gemaak en help die mens om opnuut te verstaan dat om met geloofsoë na die wêreld te kyk is om digterlik na die wêreld te kyk.

Ons leer met geloofsoë kyk … en ontdek ʼn dieper skoonheid

Ons is almal geroep om te kyk en sien. Ons is geroep om te soek, om soos die mense met hulle selfone rondloop op soek na die ideale foto-geleentheid, ook te soek na God se ideale foto-geleentheid. Maar hoe lyk dit, hoe lyk die “mooi” foto’s wat God wil neem? Een van die waarhede wat ons van die Reformasie geërf het, is dat ons vrygemaak is om in geloof anders te kyk. Vanaf Genesis tot en met Openbaring sien ons hoe die wêreld se laastes, God se eerstes is. Kan jy jou voorstel van wie daar foto’s in God se Vogue of Cosmopolitan sal wees? Natuurlik kan ons iets van God sien in die mooi van ʼn waterval, van ʼn perfek geskape liggaam, van ʼn trop sebras of ʼn sonsondergang op die Hoëveld of wolke oor Tafelberg. Dit is egter geloof in Jesus Christus wat ons ook die skoonheid laat sien van ʼn geknakte riet, van ʼn gedoofde lamppit, van ʼn kruis.

Dit is nie maklik om só na die wêreld te kyk en te sien nie. Ons word gebombardeer en geïndoktrineer met die wêreld se standaarde vir mooi. ʼn Oefening wat jy kan doen, is om gewoon net die vraag te vra waar ek God vandag sien in my dorp of stad? Indien julle hierdie pamflet as ʼn groep lees, kan dit ʼn goeie groepsoefening wees as elkeen van julle in die komende week julle selfone neem en in julle area op die spoor van God die digter gaan loop. Kom dan terug na die groep en deel dit met mekaar. Waar het julle God se “mooi” gevind? Niemand neem dieselfde foto’s van dieselfde voorwerp nie, niemand kyk ook op dieselfde wyse deur die lens van die Skrif na die wêreld nie. Saam ontdek ons en help ons mekaar om in geloof dieper te kyk. Dalk kom iemand terug na die groep sonder ʼn foto en sê dat hy of sy niks gesien het nie. Wel, ook daardie belewenis is deel van die Bybel se getuienis.

Die Bybel leer ons dat waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Onthou, waar jou skat is, daarheen sal jou selfoonkamera draai. Inderdaad, glo is sien!

 

Cas Wepener

Share this post