Vrygemaak om met vreugde te dien

Vrygemaak om met vreugde te dien

Vryheid is kosbaar

Vryheid is een van die mensdom se hoogste ideale en kosbaarste besittings. Oor die eeue heen veg volke al in vryheidsoorloë, lê mense hulle lewe vir vryheid neer. Dink maar aan die stryd vir die vrystelling van slawe, of vir godsdiensvryheid. Seker die belangrikste simbool vir Amerika is die reuse Statue of Liberty in die New York hawe. Hierdie beeld van die Romeinse godin van vryheid was ʼn geskenk van die vryheidsliewende Franse volk in 1886. Vryheid kan egter ook ʼn risiko wees; dit kan misverstaan word. My of ons vryheid kan ander hulle vryheid ontneem. Of dit wat ons as vryheid nastreef, kan so maklik in ʼn nuwe slawerny ontaard. Wanneer is ons waarlik vry?

Die Reformasie en vryheid

Vryheid was een van die kernsake in die Reformasie, 500 jaar gelede. Vandaar die oorkoepelende tema van hierdie pamfletreeks: Vrygemaak. Luther en Calvyn het baie daaroor gedink en geskryf. Een van Luther se eerste boeke, Oor Christelike Vryheid, het ʼn belangrike stempel op die Reformasie as beweging afgedruk. Daarin maak hy die “revolusionêre” stelling: ʼn Christen is ʼn volkome vrye heerser oor alles, onderworpe aan niemand nie. ʼn Christen is ʼn volkome diensbare dienaar van almal, onderworpe aan elkeen.” Hierin het hy by Paulus aangesluit: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel…” (1 Korintiërs 9:19) en “Moet aan mekaar niks verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” (Romeine 8:8).

Christen-wees beteken vry-wees, bevry, vrygemaak. En hierdie vryheid is kosbaar, ons moet dit koester, daarin vasstaan: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder die slawejuk laat indwing nie” (Galasiërs 5:1). Hierdie teks – eintlik die hele Galasiër-brief oor die Christen se vryheid – sit in die hart van ons Christelike geloof; dit is waaroor die Reformasie ten diepste gegaan het.

Wat bedreig hierdie vryheid?

Vryheid – ook die Christen se vryheid – word van twee kante bedreig.

Eerstens word ons vryheid van buite onsself bedreig. Daar is die Bose in ons wêreld, magte, vreesaanjaende kragte buite onsself, wat ons vryheid kom steel en ons lewens lamlê. Dit kan ander mense wees, heerssugtige, magsbeluste mense; dit kan ʼn diktator wees wat mense onderdruk; of dit kan my man of my vrou wees, ʼn ouer of ʼn kind, my baas, of ʼn boelie wat my fisies of emosioneel gevange hou. Maar dit kan ook onregverdige politieke of ekonomiese sisteme wees, ʼn tydsgees, bepaalde kulturele gebruike of rolverwagtinge wat my van my vryheid beroof. Ja, dit kan selfs ook godsdiens wees, wanneer godsdiens ʼn juk op ons laai, ʼn ekstra verpligting bylas, verdienste eis, my die slaaf van ʼn godsdiensleier of ʼn leerstelling maak. Hierteen het Paulus dit veral in Galasiërs 5 gehad, dat die Joodse tradisie allerlei voorskrifte soos ʼn swaar las op mense kom laai het, en hulle daarmee onvry gemaak het.

Die tweede oord waaruit ons vryheid bedreig word, is van binne onsself. Dit gebeur as ons so selfbehep, selfsugtig en selfgerig lewe, so ingebuig in ons self (iemand praat van mense wat vasgenael na hulle eie naeltjies staar), soos Narkissos in die Griekse mitologie wat so verlief op sy eie spieëlbeeld in die water (sy selfie) was, dat hy daar langs die rivier sit en wegkwyn het.

Dis dan wanneer ons eie velle soos ʼn tronksel se mure word. Dis dan wanneer ons slawe word van ons eie begeertes en gierigheid, ons heerssug en wraaksug, ons wellus wat bevredig moet word. Ons word dan losbandig, want die enigste band wat ons bind is die eie-ek, die ou natuur, die self-god wat die laaste sê het. Self skep ons ook gode waaraan ons onsself verkneg – daar is talle sulke moderne gode waarop mense hul vertroue plaas, en soos slawe dien. In ons opstand teen God, skep ons die ek-god – ons sondige natuur, noem Paulus dit in Galasiërs – wat nie net ons eie vryheid steel nie, maar ook dié van alles en almal rondom ons. Ons ganse leefruimte word uiteindelik daardeur verteer.

Christus het ons vrygemaak … om te dien.

Christus het ons kom bevry van alles wat ons verslaaf. Dis die goeie nuus! Dis die egte vryheid, sê Romeine 8:36: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees”. Toe Hy aan die kruis gesterf het, is ons ou, sondige natuur daar saam met Hom gekruisig. En toe Hy uit die graf opgestaan het, het Hy aan ons ʼn nuwe lewe gegee, ʼn lewe van vryheid. Ons is nou nie meer slawe nie, nie van ander nie, ook nie van onsself nie. Prof Dirkie Smit skryf dat ons dit in die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 1, troosryk bely:

Ons behoort nie aan onsself nie. Dit is die troos en dit is die roeping. Ons behoort nie aan onsself nie. Dis ons diepste troos in lewe en sterwe, só bely ons. Ons behoort nie aan onsself nie, sorg nie vir onsself nie. Ons is bevry, vreesloos, verlos. Ons behoort aan ons enigste Verlosser, Jesus Christus. Maar dis ook die hart van ons roeping. Ons behoort te lewe soos mense wat nie aan hulleself behoort nie, maar aan Christus, en daarom aan mekaar, aan ons naastes. Vrygemaak, om lief te hê en te dien, vrywillig en van harte.”

Hierdie vryheid is eers eg en blywend, as dit ons uitbuig uit ons selfgerigtheid en rig op ons roeping om mekaar en ander te dien, mekaar se laste te dra, vrywillig en met vreugde. “…julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ʼn verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde” (Galasiërs 5:13).

Hoe moet ons mekaar dien?

  • Soos Christus, só moet ons mekaar dien. “…moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van die ander.” (Filippense 2:3 en 4) Soos Christus homself ontledig het, en die gestalte van ʼn slaaf aangeneem het, so moet ons dit doen. Luther het gesê ons moet almal vir mekaar “Christusse” word.
  • Dit beteken dat ons mekaar en ander moet leer raaksien, na ander moet leer luister, in mekaar se skoene moet gaan staan, saam moet probeer verstaan wat nou die werklike nood is, en hoe ons mekaar kan bemoedig en prakties kan help. Dit kan selfs ook vra dat ons saam sal stry teen die onreg, teen dit wat ons vryheid bedreig, dat ons sal gaan staan waar God staan, by die verontregte (Belhar Belydenis).
  • Ons moet die dinge kan onderskei waarop dit werklik neerkom, wat die liefde van ons vra. Juis hiervoor het die Vader en die Seun saam die Heilige Gees gestuur, en die Woord gegee, om ons te lei, om ons vas te hou in hierdie vryheid, in hierdie liefdesverhouding met God en ons naaste.
  • En hierdie diens aan God en ons naaste doen ons dan, nie om iets daarmee te verdien nie, maar omdat ons begenadig is, vrygemaak; ons doen dit met dankbare vreugde. Daar is geen groter lewensvreugde as juis dit nie: om as vrygemaaktes God en ons naaste in liefde te dien!

 

Gideon van der Watt

Share this post