Tweede Advent
Lees Lukas 1:26-38
Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik . . .?”
(v. 34).
Die engel is besig, en hy reis wyd – van die altaar in die tempel in Jerusalem, vér noord, na ’n dorpie in Galilea. En sy verstommende boodskap is telkens dieselfde: Jy gaan ’n kind hê.
Eers bring hy die nuus aan ’n ou vrou – “op ver gevorderde leeftyd” (v. 18), soos haar ewe bejaarde man kopskuddend sê. En toe aan ’n jong maagd.
Onmoontlik! sê laasgenoemde. Ek is wel verloof, maar . . . hy het nog nie aan my gevát nie.
Ag, en toe gee die engel haar daardie aller-antwoord, die een waarna elke Godskind smag: Ek hoor jou, maar jy moet weet dit is God wat aan jou gevat het. Nog meer: Hy het jou vir Hom gevat, net soos jy is. En Hy gaan jou in sy diens gebruik. Ja, ook vir jóú, nooi uit Nasaret.
Hoe is so iets moontlik? Hoe gebeur dit dat die grote, hoë God afbuk en sy hande om ’n niksbeduidende mens vou?
Dit is ʼn tipiese menslike reaksie, Maria. Jy klink nou amper soos ou Sagaria. Jy moet immers – soos die priester, want dit is sy werk – glo vir God is niks onmoontlik nie.
Só help die engel haar reg.
Uiteindelik vind Maria weer woorde: Dan is dit reg so, Meneer. Ek is tot die Here se beskikking. Hy moet maak soos Hy goeddink.
En hoe goed dink Hy nie; hoe wonderlik is sy gedagtes nie!
Hy dink soveel van Maria dat Hy haar uitkies om dié Wonderwerk in haar te volbring. Soos die bejaarde Elisabet sal sy, Maria die maagd, ’n seun in die wêreld bring.
En dié twee seuns sou, elkeen uit eie reg, baanbrekers wees. Elisabet s’n sou die pad vir Maria s’n gelykmaak. En Maria se Seun sou vir almal wat Hom volg, ’n spoor trap, sodat hulle die lewe sinvol kan leef.
En uiteindelik sou Hy ter wille van hulle, sy volgelinge, selfs deur die grootste versperring breek – die dood.
Die Here vra nie wonderwerke van ons nie; dit is sý afdeling. Ja, om dit wat onmoontlik is tot die werklikheid te omskep, is ons Here se alledaagse werkwyse.
Van ons vra Hy bloot om in sy alvermoë te glo. Om te weet Hy kán, en Hy hét, en Hy sal weer, en weer, en tot in ewigheid.
En Hy vra ons om tot sy beskikking te wees. Want die sigbaarste van al sy wonderwerke is mos dié wat Hy in ons doen.
Here, in hierdie tyd ervaar ek u omhelsing.
Dankie dat U aan my vat
ten spyte van wie ek is en wat ek gedoen het.
Ek kan dit amper nie glo nie!
Dat U my steeds wil hê, is niks minder nie as ’n wonderwerk.
Ek prys u Naam.
Uit: Seisoene van genade deur Barend Vos. Bestel jou kopie hier.