ʼn Paar jaar gelede was ek by die Maltese kruis, ʼn indrukwekkende rotsformasie in die Sederberge, sowat 200 km noord van Kaapstad. Na ’n paar uur se stap teen die berg op het ek voor die 20 m hoë rotsformasie gestaan. Nie alle mense maak dit tot by hierdie kruis nie. Baie weet nie daarvan nie, ander sal nie eers die staptog oorweeg nie, ander stap ’n ent teen die berg op maar gee op en keer terug. Maar dié wat bo kom word verras en aangegryp deur hierdie natuurwonder.
Sowat 2000 jaar gelede was daar ’n eenvoudige kruis, geplant op ’n klein heuwel met die naam Golgota. ’n Man is aan die kruis vasgepen met spykers deur sy hande en voete. Hierdie kruis het die belangrikste en bekendste kruis geword. Want die Man aan die kruis was Jesus Christus, die Seun van God. Hy het mens geword, om ons te kom leer hoe God is en om ons te kom red. Die Bybel noem dat dit wat gebeur het by die kruis, en die opstanding daarna, die belangrikste is van alles in die evangelie – dit is die evangelie: Die belangrikste van alles (die wesenlike) is dat Christus gesterf het om vir ons sondes te betaal presies soos die Skrif dit voorspel het. Hy is begrawe maar op die derde dag het God Hom weer lewendig gemaak net soos dit in die Skrif staan (1 Kor. 15:3-4).
Ongelukkig, net soos met die Maltese kruis, maak nie alle mense dit na die kruis van Golgota nie. Hulle weet miskien nie van die kruis nie, of stel nie daarin belang nie, of bly nie op die pad daarheen nie. Om by die Maltese kruis te kom, is moeilik. Om by die kruis van Golgota te kom is maklik. Want eintlik was ons al daar, 2000 jaar gelede al! Dit staan so in die Bybel: Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kan word … Ons het saam met Christus gesterwe daarom glo ons dat ons saam met Hom sal lewe (Rom. 6:5-8). Ook: Julle het saam met Christus gesterwe (Kol. 2:20). Dit klink onmoontlik, want 2000 jaar gelede het ons nog nie geleef nie. Maar die Bybel stel dit so om vir ons iets te leer. Aan die kruis, leer die Bybel ons hier, het Jesus klaar vir al ons sonde betaal, so volledig asof elkeen van ons self by die kruis was, self gekruisig is en self vir al ons sonde betaal het!
Die vergifnis is ’n geskenk wat God ons aanbied. Aanvaar hierdie aanbod van verlossing. Wanneer jy by die kruis van Golgota kom sal jy verras en aangegryp word deur die wonder daarvan – die wonder van God se liefde en genade.
Ons Vader, dankie dat Jesus aan die kruis vir al my sonde betaal het. Amen
Gert Berning