Geld-slim

Word geldslim

Elke oggend maak ek ’n beker koffie, maar dié koffie is nie regtig lekker nie. Elke keer hoop ek die koffie smaak môre beter, maar dit gebeur nie. Waarom nie? Omdat ek aanhou om presies dieselfde hoeveelheid van dieselfde goed in dieselfde volgorde in my beker te gooi.  Dom, né!  As ek niks verander nie, sal die smaak mos nie verander nie!

As dit goed gaan met jou geldsake, hoef niks te verander nie. As dit nie goed gaan nie, is die vraag: Hou jy aan hoop dat dit eendag skielik beter sal gaan? Wel, dít sal nie vanself gebeur nie. As jy aanhou om oor geld te dink en dit uit te gee soos jy tot nou toe gedoen het, gaan dit bly sleg gaan. Selfs meer geld sal nie jou situasie verander nie.

Daarom wil ek jou uitnooi om anders oor geld te dink en dit anders te spandeer. As jy dit doen, sal jy verbaas wees hoe vinnig dit beter gaan.   

  1. Fokus op wat jy reeds het

Omtrent alle mense glo dat hulle te min geld kry. Daarom praat hulle gedurig oor wat hulle nie het nie. Hulle praat oor wat hulle sal doen as hulle net eers méér geld het. Net ʼn paar mense fokus op wat hulle rééds het – of dit nou min óf baie is. Hulle wil graag die geld wat hulle reeds het, beter gebruik.  Dis hulle wat vorentoe gaan!

Wenk: Vra jouself die vraag: Spandeer ek die geld wat ek reeds kry reg en verantwoordelik? Kan ek dit nog beter spandeer? Onthou: “Die wat oor min getrou is, sal uiteindelik oor meer aangestel word” (Matteus 25:14-30).

  1. Wysheid en kennis is belangriker as geld en besittings

Lees Spreuke 2:1-4; 3:13-16 en 4:7-8, asook 16:16 en 24:3-4. Geld en die goed wat jy het, kan jy maklik verloor. Dit wat jy weet, kan niemand van jou af wegvat nie. Daarom is kennis belangriker as besittings.

Wenk: Kry kennis, soek wysheid, streef na insig. Leer hoe om steeds beter met jou geld te werk. Leer nuwe vaardighede aan. Laat jou kinders leer. Moet hulle nie vroeg uit die skool haal om te gaan werk vir geld nie.

  1. Kitsrykdom gaan jou nie help nie

Lees Spreuke 13:11 en 23:5. As jy nie die kennis en vaardigheid het om oor ’n tyd bietjie vir bietjie bymekaar te maak nie, gaan jy ook nie weet wat om met baie geld te maak as jy dit skielik kry nie. Dit gaan oornag weer verdwyn.

Wenk: Moenie gierig wees, die Lotto speel en jou hoop op kitsrykdom vestig nie. Lees Efesiërs 5:5 en 1 Timoteus 6:17-19.

  1. Wees eerlik

Geld en goed wat jy op ’n oneerlike manier in die hande kry, vat jou nie vorentoe in die lewe nie. Lees Spreuke 10:2; 15:6; 20:21, 21:6 & 28:8.

Wenk: Moenie oor jou inkomste of jou gesondheid lieg om ’n staatstoelaag te kry nie. Moenie steel nie. Bly weg van bedrog.

  1. Moenie mense met geld probeer beïndruk nie: Oppas! Wees veral versigtig tydens troues, begrafnisse en partytjies.

Wenk: Don’t buy things that you don’t need, with money that you don’t have, to impress people that you don’t like.

 

Troues: Dikwels word duisende rande spandeer aan die seremonie wat net ’n paar uur duur, terwyl niks bestee word om meer oor die huwelik, wat ’n leeftyd moet hou, te leer nie.  Daarom hou sulke huwelike ook nie lank nie. Die hoeveelheid geld wat jy spandeer maak nie ʼn huwelik belangrik nie, maar die feit dat God dit ingestel het
(Matteus 19:4-6) en dat dit ’n blywende verbond tussen man en vrou is (Maleagi 2:13-16).

Wenk: Moenie familie en vriende probeer beïndruk deur ’n “grand” troue nie, beïndruk hulle met jou vaste verbintenis om nie voor jou huwelik seks te hê nie. Beïndruk hulle met ’n gesonde en gelukkige huwelik!

Begrafnisse: Betoon respek teenoor jou geliefdes terwyl hulle lewe! Spreek jou waardering uit vir alles wat mooi en goed is. Gee blomme terwyl jy kan. Mense wat gesterf het, neem nie kennis van wat op hulle begrafnisse gebeur nie.

Wenk: Moenie dat mense jou hartseer misbruik net om geld uit jou te maak of jou skuldig te laat voel as jy nie die beste en duurste kis koop en baie mense nooi om saam te eet nie. Leef nóú in eenheid en liefde, dan hoef jy nie later jou skuldgevoelens en slegte verhoudings met ’n duur begrafnis, wat jou in die skuld dompel, toe te smeer nie.

Partytjies: ’n Verjaarsdag is ’n goeie geleentheid om aan God lof en dank te bring vir sy troue sorg en bewaring. Maar wanneer duur partytjies (selfs vir babas) gehou word om ander mense te beïndruk, mors jy geld.

Wenk: Onthou die beste wat jy jou kinders kan gee, is nie duur geskenke of partytjies nie, maar persoonlike liefde en aandag. Die grootste geskenk is dit: Pa, wees lief vir die ma van jou kinders en bly trou aan haar. Ma, wees lief vir die pa van jou kinders en bly trou aan hom.

  1. Bly weg van skuld – dit maak jou armer

Rente is die geld wat jy moet betaal vir die voorreg om iemand anders se geld (ons noem dit kapitaal) vir ’n sekere tyd te kan gebruik. As jy dié geld gebruik om geld te maak (bv. om skaap wat aanteel te koop of groente te plant wat jy verkoop), kan jy in staat wees om die geleende kapitaal sowel as die rente daarop terug te betaal. As jy egter geld leen om kos en gewone gebruiksgoedere (klere, meubels of ʼn selfoon) te koop, sal jy baie sukkel om jou skuld plus die rente te betaal, want dié goed maak nie meer geld nie, dit word eerder minder werd.

Wenk: Spaar eers en koop dan kontant. Dan kan jy vir afslag vra en dit plaas jou op die wenpad. Bly weg van “Cash loans”. Hulle vra baie rente en as jy jou oë uitvee, is jy hulle slaaf. Lees Spreuke 22:7.

Wenk: As jy geld móét leen, onthou die volgende drie dinge:

Leen so min as moontlik   Want jy moet alles, kapitaal en rente, terugbetaal;

Betaal so gou as moontlik  Hoe langer jy neem, hoe meer rente betaal jy;

Betaal so veel as moontlik  Hoe meer jy per maand betaal, hoe gouer is jy klaar en hoe minder is die rente.

Onthou dat die mense by wie jy geld leen (banke, “cash loans” of winkels), presies die teenoorgestelde wil hê. Hoe meer jy leen, hoe minder jy elke maand betaal en hoe langer jy vat om alles te betaal, hoe meer geld maak hulle uit jou. Dan word hulle ryker en jy word armer. Moenie dat hulle jou vang nie.

  1. Gebruik wat jy het

Lees 2 Konings 4:1-7 en Johannes 6:4-14. Jy het iets! Woeker met dit wat jy het. Gebruik jou vaardighede en jou tyd. Benut elke geleentheid om nog iets te leer. Benut alles wat God in sy groot goedheid aan ons gee: grond (al is dit so groot soos die deur van jou huis), sonskyn en reën (water). Hy gee ook plante en diere. God het baie goed gemaak wat vermeerder – wat produseer. Gebruik dit!

Wenk: Maak jou eie groentetuintjie naby jou huis. Só kan jy self in baie van jou gesin se behoeftes voorsien, geld spaar en jou kinders verantwoordelikheid leer. Daar is baie mense en organisasies by wie jy kan leer om dit suksesvol te doen.

Produseer jou eie vleis deur ’n paar hoenders of konyne aan te hou. Begin boer met bye en verkoop die heuning. Wat van vis indien water beskikbaar is? Jy kan vetplante of ander kruie en medisyne-plante kweek (bv. kankerbossie – Sutherlandia frutescens). As jy begin soek na geleenthede, sal jy dit kry. Vra vriende, maar ook die Here se hulp en raad.

Jy kan armoede oorwin, maar dan moet jy leer hoe om die geld wat jy reeds het, nog beter te gebruik. Dit help nie jy begeer ’n ander een se goed as jy nie getrou en verantwoordelik is met jou eie goed nie. Lees Lukas 16:10-12. Wees getrou en jy sal die seën van die Here op jou finansies ervaar.

Word geld-slim (2) leer jou hoe om jou geld aan die hand van ’n begroting te bestuur.  Bestel dit by CLF.

Share this post