Word stil

Word stil en luister

Ek word wakker. Ek weet die dag se roetine moet begin, maar ek kreun en wens ek kan die tyd terugdraai of net die dag oorslaan. Dis my waarskuwing dat ek nie meer genoeg tyd maak om stil te wees nie.

Die lewe is vol beweging en geraas

Alles voel heeltyd besig en raserig. Daar is altyd iets om te onthou, om oor te besluit, om na te kyk, om na te luister, om te doen, om oor bekommerd te wees, om te vrees … Spanning voel normaal. Almal is kort-af met mekaar. Dit is moeilik om selfs jouself te hoor. Ek maak die kinders stil terwyl ons inkopies doen: “Bly net bietjie stil. Ek kan myself nie hoor dink nie!” Klink dit bekend? Ek het al geamuseerd geglimlag wanneer ek bykans dieselfde woorde by ’n ander mamma in die winkel hoor terwyl ons paaie vir ’n oomblik kruis. ’n Week voel soos net twee of drie dae. Hoe kan ek God se stem tussen dit alles deur hoor?

Sonder God se stem voel ek soos ’n skip sonder ’n kompas, ’n kaptein met geen idee in watter rigting land lê nie. Ek wil sy stem hoor. Ek wil weet wat sy plan is. Ek wil weet dat daar hoop is, ’n rede om aan te gaan. Al het ek grootgeword met die gedagte dat Hy daar is, gebeur daar dinge in die lewe wat selfs ’n Christen laat vra: “Is U regtig daar? Glo ek reg?”

By ’n skoolfunksie waar my kinders op die verhoog is vir ʼn optrede saam met klasmaats, soek hulle angstig, met hoopvolle oë deur die see van gesigte om my gesig tussen die beweging te herken. Daardie oomblik van herkenning en die wete dat ek daar is, maak hulle rustig. Hulle kan voortgaan met vertroue en selfvertroue. So wil ek my Hemelse Vader se teenwoordigheid tussen al die ander “beweging” bevestig.

Hoor sy stem

Om sy stem te hoor, moes ek eers verstaan hoe sy stem klink – dat dit die klankbaan van my lewe vorm, dat dit oral en op enige plek in my lewe duidelik kan word. Ek moes leer om dit altyd te verwag. Om die beste te hoor, moet ek tyd maak om weg te draai van die geraas in my lewe – al die planne wat ek self probeer maak as paniek my pak, daardie dinge wat my swaar laat voel van vrees, moeg laat voel van kommer, hartseer of woede.

Storms kan jou leer luister

Dis in die storms van my lewe dat Hy my leer en herinner om te luister, my help om sy gesig te herken en te weet dat Hy daar is. Elke storm baken ’n tyd af waar dit gevoel het asof God se stem stil geword het, asof sy seën ophou reën en al wat oorbly ’n warm woestynwind is waarin ek alleen vasgevang is. In die oog van die storm, daar vind Hy my. Wanneer my baklei met Hom bedaar het, ek my twyfelvrae uitgestort het, ek leeg gehuil is en alles onomkeerbaar verlore en hopeloos voel, wanneer ek voel ek verstaan nie eens waarom God die aarde en alles daarin geskape het nie, is my eie ek uitgewoed. Dan raak ek stil en sien ek Hy was heeltyd daar. Hy het elke traan in sy hande gevang, my die storm laat deursien, heel anderkant laat uitkom, en my met vervulde beloftes geseën. Hy het my toegerus met insig, empatie, en elke ervaring en vaardigheid wat ek nodig het om in sy wil die volgende tree met vertroue te neem.

Daar hoef nie altyd eers storms te wees nie

Die lewe se storms woed voortdurend om ons in hierdie gebroke wêreld. Wanneer ons Hom nie hoor nie, hoor ons nie altyd sy raad en waarskuwings nie. Dan slaan dit ons afdak plat sodat ons blootgestel raak aan daardie storms.

Elkeen se pad deur die storms na die hart van die geheimenis van God se liefde is sy eie. Ek het nog nie ’n engel met gespreide vlerke voor my sien staan nie. Daar was nog nooit brandende bosse in my tuin met God se stem daarin nie. Ek weet wel dat God se bereidheid om met ons te praat geen perke het nie. Ek moet myself herinner dat ek die maniere waarop Hy met my praat nie moet beperk met logika nie en ek hoef nie te wag vir ’n storm nie. Sy stem kom deur dinge wat ander vir ons sê, dinge wat gebeur op ’n spesifieke tyd en manier, iets wat jy lees in die Bybel of ander teks, ’n onomwonde stille wete wat jou te binne skiet, ’n droom, lirieke …

Vertrou Hom

Ek het een van ’n tweeling op agt weke verloor. Die dogtertjie wat oorleef het, het op 18 weke tydens geboorte gesterf. Dit was ’n pynlike kraamproses van agt ure en ook die enigste keer dat ek sy stem direk gehoor het. Deurgaans het ’n man se stem gerusstellend gesê: “Vertrou my …” Toe ek na die tyd bevestig dat dit nie my eggenoot was nie, het dit geen sin gemaak nie. ’n Paar weke daarna ry ek vir die eerste keer terug werk toe. Ek, in trane, vra weer: “Hoekom?” Toe ek opkyk, is daar ’n ry goudgeel vlae langs die pad, deel van ’n motormaatskappy se advertensieveldtog, met die woorde “Driven by trust”. Die lied op die radio begin speel: “I barely hear You whisper through the rain ‘I’m with You’. And as your mercy falls, I raise my hands and praise the God who gives and takes away.” – ’n lied deur Casting Crowns.

Die belofte dat my dogter aan my teruggegee sou word, is bevestig tydens ’n gebedsessie met ’n gebedsmiddelaar. ’n Bloedtoets het bevestig dat ek ’n lewensbedreigende tekort aan vitamien B gehad het, wat ons nie sou dink om voor te toets as dit nie vir die onsuksesvolle swangerskap was nie. Sewe maande na die hartseer gebeure, was ek weer swanger. My dogter is gesond gebore. Sy maak ons harte bly met haar liedjies, laggies en gehuppel.

Is jy gereed om stil te word …

  • Word sensitief en ontvanklik vir God se stem. Moet die Here nie beperk nie. Hy praat deur alles en almal, selfs tot in jou drome.
  • Word stil. Hou ’n rukkie op dink aan nega-tiewe dinge en goed wat jou aandag aftrek.
  • God is gereed om met jou te praat. Hy wag op jou al voel dit asof jy op Hom wag.
  • Weet waar en hoe jy Hom die duidelikste hoor – in die natuur, in jou kamer, wanneer jy droom, in jou motor, in sy Woord … ons elkeen stap ons eie pad met God.
  • Soek na die Here, roep Hom aan. In jou soeke na God, pluis jy ook dinge uit omtrent jouself.
  • Wees gereed en bereid om onverwagte antwoorde te kry en steeds te vertrou.
  • Soms is die antwoord op ’n vraag ’n ander vraag.
  • Mediteer op ’n Bybelteks. Vind God in sy Woord.

Jesaja 55:3 – “Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.”

Share this post