Gedurende die Victoriaanse tyd, die agtergrond vir die meerderheid van die stories wat in hierdie bundel vertel word, was die vrou hoofsaaklik gesien as tuis by die huis en indien sy enigsins in die publiek sou optree, dan slegs as ’n tipe hulp vir die man. Gevalle, soos deur die karakters in hierdie boek geïllustreer, waar vroue aktiewe en dikwels onafhanklike agente in die sendingkonteks was, is uiteraard nie net noemenswaardig nie, maar selfs ongehoord binne konserwatiewe Protestantse kulture van die tydperk waaruit hulle kom. Gegewe die langdurige impak van ’n heersende kultuur wat vroue gering geskat het, is dit verstaanbaar dat die stories wat wel die dominante diskoers van hul tyd uitgedaag het, al te maklik verswyg is. Wat in hierdie boek gebeur vorm dus deel van ’n uiters noodsaaklike korreksie ten opsigte van geskiedskrywing oor die algemeen en die kerk- en sendinggeskiedenis in die besonder. Soveel te meer is dit van belang vir die Afrikaanssprekende Christelike gemeenskap in Suid-Afrika. Geen wonder dus dat vir die meerderheid lesers die stories wat hier vertel word, geheel en al onbekend sal wees. Selfs mense wat hulself as sendingbelangstellendes beskou en dus reeds vertroud is met familiename soos Murray en Pauw sal dalk verras wees deur die betrokkenheid van ook vrouesendelinge binne die kring van sulke bekende families. Hierdie boek is ’n skatkis van verhale oor vroue in die sending. Die lesers wat hulself daarin gaan verdiep, kan voorbereid wees op ’n wonderlike ontdekkingsreis na die verlede.