Hierdie gedenkbundel, as viering van die CLF se sestigste bestaansjaar, vertel die merkwaardige verhaal van ’n literatuur-projek met die droom om die boodskap van die Bybel in Suider-Afrika, “in elkeen se eie taal”, uit te dra, maar dit word ook vertel binne die konteks van die groter verhaal van die NG Kerk se verstommende én veelbewoë sendinggeskiedenis.
In hierdie verhaal gaan dit om tale, om elkeen se eie taal, geloofstaal, die vertaal van die Bybelse boodskap op so ’n wyse dat dit grondvat in lesers se harte en daar tot geloof ontkiem. Die Boodskap self word vertaal, verstaanbaar, betroubaar. Maar tekste en manuskripte oor die Bybelse boodskap moet noodwendig ook vertaal word. Oor vertaalwerk staan hier: “Vertaalwerk verg liefdevolle noukeurigheid en grondige kennis van altwee tale ter sprake; dit veronderstel ’n ryke woordeskat asook grondige kennis van taalkunde en grammatika; dit vra ’n vertroudheid met die inhoud waaroor ’n manuskrip gaan.
Dit verg egter méér as net kennis; dit behels ook ’n fyn aanvoeling vir mense en kulture; dit is ’n kunsvorm wat ritme, skoonheid en beeldrykheid ontsluit, wat lei tot dieper begrip, wat ontroer en uitnooi tot aanvaarding, oorgawe en hoop. Want is dit nie ten diepste wat Christus, die vleesgeworde Woord, kom doen het nie? Om God, die onbeskryfbare en ondenkbare, vir ons mense verstaanbaar in mensetaal te kom vertaal. En is dit nie wat die Heilige Gees sedert Pinkster doen nie: om die vleesgeworde Woord verder in ’n verskeidenheid tale en kontekste te vertaal – in die taal van mense se harte?”
Hiermee is die CLF oor jare heen besig! Dit is ‘n “taalryke en kleurvolle” verhaal. Die verhaal hieroor behoort daarom gelees en gevier te word.