In Kruisgesante oorkant die Kei vertel 112 stemme, elk in hulle unieke taal en styl, die storie van sendelinge van die NG Kerk in Transkei. Hulle belewenisse is lappies met verskillende patrone, teksture en kleure wat uiteindelik ’n bont lappieskombers vorm. Dié lappieskombers vertel van unieke geestelike ervarings, nuwe insigte, teleurstellings, krisisse en betekenisvolle momente. Ons het selfs ’n klompie foto’s bygevoeg. Dalk is dit waar dat hierdie boek “an uneasy story” vertel. Tog, watter wonderlike voorreg was dit om deel van hierdie ongemaklike storie te kon wees! Dit gaan hier nie net oor ’n nostalgiese terugblik op die verlede nie; die doel is eerder om lesers terug te voer om met dankbaarheid na te dink oor hulle aandeel aan die bitter-soet verhaal van God se werk in Transkei. Dit sal ’n bonus wees as dit ’n nuwe geslag inspireer om op ander maniere, in ander tye en op ander plekke deel van God se genadewerk in hierdie wêreld te word. Ons roeping bly immers altyd van krag.