Na aanleiding van Psalm 119:33-40 (lees 2020-vertaling)

Here, die kunstig-ontwerpte Psalm 119 bring my weer in u teenwoordigheid vir nog ’n aspek van u Torah. Die Psalmis verlang om enduit te hou by u voorskrifte. Die gelowige bidder het behoefte aan u ondderrig om die lewenspad volgens u voorskrifte te bewandel.

Juis daarom, Here, inspireer dié gebed ook vir my. Dit is grondslag onderrig vir geloofsgetroue diens aan U. Ons ervaar elke dag dat invloede ons leefwêreld en bestaan onder druk plaas. Dis asof ons gelowiges se verhouding met en vertroue op U, voortdurend onder spanning is.

Die Psalmis gee uitdrukking aan die werklikheid van druk op ons/my verhouding met U, Here. Sy beskrywing is fyn en vir my identifiseerbaar. Die bidder verwoord wat ons ook in ons tyd beleef, maar wys ook die pad aan vir hoe ons met die uitdagings en spanning kán omgaan.

Here, die Psalmis noem ’n aantal faktore wat uitdagend is en dreig om ons afhanklikheid van U te laat wankel. Dié geloofsleraar ken die aanvegtinge van ’n hart wat neig na winsbejag. Die bidder weet egter ook wat die oplossing is. Daarom begeer hy ’n hart wat na u bepalings (Torah) neig.

Hierdie les wil ek graag met albei hande aagryp, Here. Help my/ons tog om nie verblind te staan voor die valse glans van geld en materiële dinge nie. Open ons oë vir U as enigste vaste grond vir ware lewe. Raak ons harte aan om te soek na u lewegewende woorde wat ons aan U verbind.

Here, die Psalmis het ook ’n woord oor nuttelose dinge wat ons só in beslag kan neem, dat ons van niks anders bewus is nie. Ons kan ons blind staar teen dinge sonder waarde en sodoende die pad wat U vir ons lewe bedoel het heeltemal miskyk en in onsinnigheid verdwaal.

En dan is daar ook die vrees oor bespotting wat gelowiges wil verlam, Here. Ons is dikwels so bang om u pad voluit en met vertroue te stap, omdat mense ons verkleineer oor die keuse om U te volg en te dien. Saam met die Psalmis bid ek dan ook vir die insig dat u beslissings werklik goed is.

Here, ek/ons verlang daarna om in u geregtigheid te wandel. Gee my/ons insig om u wet (Torah) te kan hou.
Amen