Jesus wil gasheer wees
Dis die laaste Sondag voor die lydenstyd. Jesus en sy dissipels is op pad Jerusalem toe, Golgota toe. By die dorpie Betanië gaan eet hulle by Jesus se vriendinne, Marta en haar suster Maria. Marta is die gasvrou. Sy skarrel om alles gereed te kry vir die ete. Dis ‘n hele huis vol mense; daar’s baie om te doen. Sy wil graag gasvry wees, wys hoe sy haar huis en haar hart oopmaak vir Jesus en sy dissipels.
Maar, haar suster Maria help haar nie. Sy sit aan die voete van Jesus, luister na sy woorde. Daar tussen die manne sit sy, en dis nie die plek vir ‘n vrou nie, nie in daardie tyd nie. Sy hoort in die kombuis, waar sy haar suster moes help. Ons kan begryp dat dit Marta ontstel het. So erg, dat sy dit later nie meer kan hou nie. “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê vir haar sy moet my kom help!”
As ek in Marta se skoene was, sou ek presies dieselfde gevoel het.
Foto: Johannes Vermeer: Christ in the house of Martha and Mary (1655)