Na aanleiding van Psalm 90:7-12 (lees 2020-vertaling)

Here, in hierdie voorlaaste week van die Liturgiese jaar, is ek opnuut bewus van tyd se voortstuwende gang. In die lig van die naderende einde van die kerkjaar moet ek erken U was deur die tydperk by my teenwoordig en die Psalmis nooi ons tot self-ondersoek voor U.

Die sekerheid dat U geslagte lank vir ons ’n woning is en dat ons U ken as ewige God wat alles geskep het, Here, gee my vandag vrymoedigheid om by die oorgang van die Christelike viering van tyd, in myself te kyk en te erken sonde is deel van my lewe, ook in die geheim en onbewus.

Die Psalmis was bewus van u toorn, woede en gramskap. In die lig van u teenwoordigheid sien hy die vernietiging wat sondeskuld en geheime sondes aanrig. U onbehae met ons sonde is ’n verskrikking, Here. Ek wil myself diep ondersoek oor dade wat u toorn laat ontvlam het – dit erken en bely.

Here, wanneer die lig van u teenwoordigheid my neiging om teen U en my naaste te sondig blootlê, moet ek weer oor die waarde en kwaliteit van die mens se lewe op aarde nadink. Dit kan ek slegs doen in erkenning van u ewige bestaan. Die einde van ’n tydsiklus herinner juis aan tyd wat verby is.

Dankie vir ervarings en lewenslesse, Here, wat ons aanspoor om nie oppervlakkig voort te ploeter ’n nuwe tydperk in nie. Dankie vir oorgange wat ons maan om stadiger en dieper te beweeg. Dankie vir die kategorie van tyd wat ons oproep om terug te kyk, in te te kyk, vorentoe te kyk, na U op te kyk.

Here, die lig van u teenwoordigheid wys my hoe kortstondig en moeitevol ons lewensdae is. Met die aanstap van die jare sien ons hoe lewensgetrou die Psalmis se waarnemings is en hoe die lewe van ons weg vlieg. Togg is dit nie al nie. U leer ons daar is waarde in ons lewensdae. U leer ons u wysheid.

Here, terwyl die lewensdae voortsnel en die werklikhede wat die Psalmis aangeteken het ons uitdaag, is U teenwoordig. U werp nuwe lig op ons lewensgang. Leer ons dan om ons lewensdae na waarde te skat. Gee my ’n hart vol wysheid. Ontferm U oor u diensknegte.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VYF EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD