
Waarom is julle so bang?
Omdat dit ‘n bekende verhaal is, is daar die gevaar dat dit ons nie meer aangryp, ons nie meer in verwondering laat nie. Daar is dieper betekenisse in die verhaal wat Markus graag wil hê sy lesers moet raaksien.
Markus plaas die verhaal net ná ‘n klomp gelykenisse van Jesus oor die nuwe koninkryk wat deurbreek, God se nuwe wêreld. En dan illustreer hierdie verhaal iets van hoe dit is en lyk in dié nuwe koninkryk van God. Dit wys iets van die Here se deernis met bang mense, die hoe die Here hulle uit hul angs verlos. Daarmee word Jesus se gelykenisse bevestig, met ‘n wonderdaad geïllustreer.
Markus plaas die klem hier doelbewus op drie dinge: eerstens die dissipels se angs, tweedens Christus se vertroue in sy Vader en derdens die dissipels se verwondering.