Na aanleiding van Psalm 43 (lees 2020-vertaling)
Here, die opvolg tema van Psalm 43 wat voort bou op Psalm 42, wek die indruk dat die Koragiete ons tyd in die oog gehad het. Die ervaring van mense wat onreg en bedrog pleeg, is vir ons ’n ontstellende werklikheid. Selfs politici erken dit in ons land se verkiesingsweek.
Die Psalmis lament oor die ontrou van die nasie. Daar is ’n diep verlange dat U die bidder se reg sal handhaaf en die saak van die regverdiges sal verdedig, Here. Dié verlange verwoord emosies wat in ons gemoed opwel, asof ’n gees van onreg van mense besit geneem het.
Te midde van dié meesleurende kultuur van onreg en bedrog in gemeenskappe wêreldwyd, Here, beleef ek persoonlik die trekkrag van die versoeking om toe te gee aan die uitnodiging om te doen soos almal doen.
Die kultuur van onreg is gevaarlik aanloklik in ons tyd!
Here, bevryding van onreg, ontrou en bedrog, het nie net betrekking op die invloed van mense nie. Die krag van die onregskultuur het ’n mag geword wat mense se harte en gees oorneem en versmoor. Ons vyand is
nie noodwendig persoonlik en elke dag sigbaar nie.
Teen die agtergrond van dié verstikkende atmosfeer, Here, roep ek saam met geloofsgenote U aan. Ons ken U immers as die God by wie ons nog altyd toevlug kon soek. Ons glo u teenwoordigheid bring verlossing. Dit is die lewegewende atmosfeer wat U aan ons bied.
Here, dankie dat u ons herinner U is teenwoordig. Dis ons troos dat ons elkeen U selfs in ons omgewing van onreg kan herken as my God, wat my van blydskap laat jubel. Ons hoef nie weg te kwyn en onrustig te wees voor die uitdagings van onreg en bedrog nie.
U stuur u lig en waarheid sodat ons die weg kan vind na u altaar, Here. Daar kan ons U aanbid. Daar verseker U ons van die hoop waarop ons in aanvegtinge kan steun. Ek dank U vir die verlossing wat U, my God, bewerk. My siel is nie meer onrustig in my nie. U is teenwoordig.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – DRIE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD