Na aanleiding van Psalm 90:1-6, 12-17 en Deuteronomium 34:1-12 (lees 2020-vertaling)
Here, die woorde en gedagtes van ons Psalm herinner my aan temas waaroor ek die afgelope tyd meermale besin. Die verwysing na Moses as “die man van God”, die beskrywing dat U vir ons ’n woning is en die talle gedagtes oor tyd, gee aan die gebed ryke betekenis.
Die Psalmis se identifisering van die gebed as dié van Moses, roep onvermydelik die laaste toneel van die Pentateug op. Moses mag die beloofde land vanaf die bergspits sien, maar U sê vir hom hy sal daarheen nie
oorgaan nie. U het die tyd vir sy taak en lewe bepaal.
Dit is dié saamvloei van Moses se begrensde tyd en sy blote visie op dit wat u as belofte vir u verbondsvolk bestem het, wat my laat dink oor my lewenstaak, Here. Die Psalmis vra dat U ons moet leer om ons lewensdae na waarde te skat. Ja, of ons handewerk U verheerlik.
Here, dat Moses op die berg sterf op die drumpel van die ontvangs van die Belofteland, staan in kontras met U ewige bestaan. Teenoor die sterflike mens staan U, die Skepper van die aarde en die bewoonde wêreld.
Die mens van stof bestaan binne u ewige tydsgewrig.
Moses se verhaal en lewe, Here, belig twee kante van ons bestaan in u teenwoordigheid. Enersyds herinner sy roeping as u dienskneg ons aan die tydelikheid van ons aardse taak. Andersyds waardeer U die stof-mens se gebroke diensbaarheid as “man van God”. U ag ons.
Here, die Psalmis se belydenis dat U vir ons ’n woning was van geslag tot geslag, gee ’n besondere dimensie aan ons tydelikheid en selfs aan die werklikheid om nie die belofte in dié lewe te ontvang nie. Om in U te woon maak ons deel van u ewigheid. Ons is altyd tuis in U.
Die wysheid wat U ons op die lewenspad leer, Here, en die insig waartoe die Psalmis se woorde en gedagtes my bring, dring die verlange by my op na ’n lewe waarin ek van aangesig-tot-aangesig met U verkeer. Ek wil in alles wat ek doen, U verheerlik en in U teenwoordigheid woon.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – TWEE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD