‘Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.’ Spreuke 28:13
Die dag toe jy jou hart vir die Here gegee het, het jy nie oornag vlerke gegroei nie. Dit is nie so maklik om ou sondige gewoontes af te skud nie. Alhoewel jy natuurlik graag as ’n nuwe mens wil leef, sluip die ou mens steeds soms uit wanneer versoekings jou onkant vang.
Wanneer dit gebeur, hoef jy nie bang te wees dat die Here vir jou kwaad is en dat jy nou jou redding kwyt is nie. Wat jy wel so vinnig as moontlik moet doen, is om jou sondes te bely.
‘Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.’ 1 Johannes 1:9
Jy kan vir seker weet dat Hy jou sal vergewe, want volgens Romeine 8:1 is daar geen veroordeling vir die wat in Christus is nie.
Dit beteken egter nie dat jy nou vrye teuels het om te maak wat jy wil solank jy net elke keer jou sondes bely nie. Paulus waarsku die Galasiërs:
‘Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.’ Galasiërs 6:7-8
Wat dit op neerkom, is dat jy steeds die gevolge van jou keuses sal moet dra, selfs al het jy dit bely. Ons gaan almal eendag moet rekenskap gee vir dit wat ons gedoen het. (2 Kor. 5:10; Op. 20:11-12)
Moet dus nie probeer om jou sonde weg te steek nie, want daar is vergifnis wanneer jy dit bely. Maar moet ook nie ’n gewoonte daarvan maak nie, want wat jy insit kry jy uit, en keuses het nagevolge.
‘Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe. Sela ‘ Psalm 32:5
God se liefde en genade is groter as wat ons regtig ten volle kan begryp, en daar is niemand wat meer regverdig kan oordeel as Hy nie.
As jy dus met ’n swaar gewete rondloop, bely jou sonde sommer vandag nog sodat jy weer op ’n skoon bladsy kan begin.
Geskryf deur Madeleine Venter