Daar is min dinge so wonderlik soos ’n vars sonskynoggend ná ’n stormagtige nag. Terwyl reëndruppels op die blare skitter, en voëls uitbundig kwetter, is dit moeilik om te glo dat daar slegs ’n paar ure gelede nog chaos was.

So is dit ook met die lewe se storms.

‘… Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.’ Psalm 30:6b

Dit mag miskien vir jou voel asof die rukwinde nooit gaan eindig nie, en asof jy deur die reuse golwe verswelg gaan word. Onthou egter dat die Here aan wie jy behoort steeds die Een is wat storms stilmaak, en dat daar ’n vars sonskynoggend op jou ook wag.

‘Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom.’ Markus 4:39

Sien jy dat daar in hierdie Skrifgedeelte nie net van stilte gepraat word nie, maar van ’n groot stilte. Die Woord waardeur alles tot stand gekom het, het beveel en die skepping het gehoorsaam. Ek kan my net voorstel dat daar nie eens ’n briesie was nie, en dat die meer so glad soos ’n spieël om die boot gelê het. ’n Heilige stilte ná die storm.

In die Pelgrimslied van Psalm 126 word daar vertel van ’n volk wat kon lag en sing nadat die Here hulle lot verander het. Hulle omstandighede het so indrukwekkend verander dat ander nasies gesê het: ‘Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen!’

Miskien voel dit asof jy jou verniet afsloof en tevergeefs probeer om voor te kom. Die een terugslag na die ander tref jou op die mees onverwagse tye.

Moenie moed verloor nie. Soms moet ons juis die storms trotseer sodat ons meer waardering vir die wonderwerk ná die storm kan hê. Die Here kan onmoontlike situasies omkeer en verander in iets so mooi dat ander ook in verwondering sal staan oor die groot dinge wat Hy vir jóú gedoen het.

Die pelgrimslied eindig met hierdie woorde:

‘Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra’ Psalm 126:5-6

Mag dit ook vir jou waar wees in die week wat voorlê.

Geskryf deur Madeleine Venter