MATTEUS 22:1-14 (Lees die 2020-vertaling)

By die draaipunt van Matteus se vertelling waar Jesus en sy dissipels by die Heilige Stad (21:1-5) aangekom en Jesus op die temepelterrein besig was met onderrig, het die hoëpriesters en familiehoofde van die volk Hom gekonfronteer (21:23, 33). Jesus het ook drie gelykenisse vertel wat handel oor God se oordeel oor Israel, omdat hulle Johannes die Doper verwerp het (21:28-32), asook vir Jesus (21:33-46). In ons Skrifdeel (22:1-14) praat Jesus wéér met die hoëpriesters en familiehoofde deur gelykenisse (vers 1) en vertel ’n derde gelykenis, moontlik ook ’n vierde een oor ’n bruilofsgas sonder ’n bruilofskleed aan (vers 11). Sommige geleerdes beskou dié derde gelykenis as bedekte allegorie oor God se heilsgeskiedenis.

Aan die begin van die gelykenis waardeur Jesus iets wou meedeel oor die koninkryk van die hemele, rig die koning uitnodigings aan gaste vir bywoning van sy seun se bruilofsfees. Die geruik destyds was ’n eerste uitnodiging na sodanige bruilofsfees, waarop genooides sou onderneem (hulle verbind) om die fees by te woon. Daarna sou die gasheer voorberei vir die feesvieringe. Wanneer alles gereed was, het hy die boodskappers gestuur om die genooides te roep na die fees toe. Die gelykenis vertel van dié oproep boodskap aan genooides wat reeds aangedui het hulle gaan die bruilofsfees bywoon. Wat egter gebeur, is dat die genooides die oproep ignoreer en met hul eie sake voortgaan. Dit herinner aan die geleykenis van die twee kinders (Matt 21:28-32). Die een kind het onderneem om in die wingerd te gaan werk, maar nie gegaan nie, terwyl die ander een aanvanklik nee gesê het, maar later spyt gekry en tog gegaan het.

Toe die gelykenis se eerste genooides die koning se uitnodigings ignoreer, het die koning sy uitnodiging uitgebrei na almal wie sou reageer. Matteus se vertelling fokus op die verskillende reaksies van Israel en die Heidene. Die eerste genooides verwerp nie alleen die uitnodiging nie, soos met die boodsakappers aan die huurders van die wingerd (Matt 21:35), maar hulle mishandel en maak die boodskappers van die uitnodiging dood (22:6). Daarop reageer die koning met streng optrede en ernstige oordeel; vernietiging van die moordenaars en hul stad (22:7). Moontlik het Matteus hiermee verwys na die vernietiging van Jerusalem in 70 nC, as God se oordeel oor die leierpriesters en familiehoofde se verwerping van Jesus.

Matteus se vertelling sluit nóg ’n versoberende les oor oordeel in, wat hier van toepassing is op die Heidene (vers 9-11). Die groep wat uitgenooi word om die eerste genooides te vervang, sluit beide goeies en slegtes in. Dit herinner weer aan Jesus se gelykenis oor die koring en die onkruid wat saam groei (Matt 13:24-30, 36-43). Maar toe die koning ingaan om die gaste te sien (vers 11-14), vind hy daar een van die gaste wat nie ’n bruilofskleed (moontlik simbool van berou en goeie dade) aan het nie. Dié ongelukkige gas kom ook onder die oordeel van die koning en word in die duisternis daarbuite gegooi (vers 13). Matteus se konsekwente teologiese standpunt word dus hier toegepas op beide Jode en Heidene. Die Heidene is nie ’n nuwe bevoorregte klas wat by Israel oorneem binne die konteks van die heilsgeskiedenis nie. Vir beide Jood en Heiden geld dieselfde waarheid, naamlik: “Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die hemele, dié is my broer en suster en moeder”, sê Jesus in Matteus 12:50.

Die punt van hierdie gelykenis is eenvoudig, naamlik dat Jesus die waarheid praat. Die waarheid is dat God se koninkryk een is waarin liefde, geregtigheid, waarheid, genade en heiligheid ongehinderd heers. Dit is die klere wat Jesus se volgelinge vir die bruilofsfees van die Lam benodig. Sou jy weier om dit aan te trek, kommunikeer jy daarmee dat jy nie langer deel wil neem aan die fees nie. Dit is die werklikheid, al het ons nie die moed om dit prontuit te sê nie: “Baie is immers geroep, maar min is uitgekies” (vers 14)

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar A