Na aanleiding van Psalm 99 (lees 2020-vertaling)

Here, die Psalmis se belydenis dat U regeer, saam met sy oproep dat volke moet bewe en die wêreld sidder, dring my tot gebed in ’n wêreld waar ek nie elke dag tekens sien dat U inderdaad regeer nie. Ek sien eerder hoe maghebbers volke ontwrig en die wêreld ontstig.

Terwyl ek begeer om by die Psalmis aan te sluit en u Naam te prys in die geloof dat U verhewe is bo volke, Here, ons God, bombaardeer die media ons daagliks met uitsprake en beelde van die leiers van volke wat dink hulle het u troon in Sion ingeneem om te beheer.

Here, Ek wil U as óns God verheerlik, aanbiddend buig voor die voetbank vir u voete. My diepste verlange is om u heiligheid te erken en oraloor aan te kondig. Die oorweldigende propaganda van ons dag kom egter van volke en hul leiers wat hulself as gode aanbied en eer.

Here, dankie dat U ons langs die lewenspad U laat sien. Die openbaring van u krag as Koning en dat U die reg liefhet, leer my om die vals propaganda van pseudo koninkies te onderskei. U voorbeeld van billikheid, reg en geregtigheid ontmasker die eietydse geweldenaars.

Here, die teenstrydigheid tussen wie U is en hoe leiers vandag optree in hul vernietigingswerk, kom skreiend aan die lig wanneer ons daaraan herinner word dat U in die gekiedenis ag geslaan het wanneer u priesters U aangeroep het – U het geantwoord en U het vergewe.

Here, saam met die Psalmis bely ek dat U geregtigheid ook vergelding vereis. Dié eienskap van hoe U handel, is ook opsigtelik anders as die optrede van magsiekes wat bomme op mense gooi, ander volke ekonomies boelie en vredestitels vir hulself opeis.

Here, ons God, my gebed is dat U aan my en u gelowiges genade sal gee om te onderskei tussen U en gewaande bevryders van volke en nasies. Werk in u kinders die diep begeerte om U alleen te verheerlik, te vertrou en te dien.
Ja, Heilig is U, Here, ons God.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – EEN EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD