MATTEUS 22:15-22 (Lees die 2020-vertaling)
Die geestelike leiers van Israel teenoor wie se gesindheid en gedrag Jesus drie gelykenisse (21:28-32; 21:33-46; 22:1-14) vertel het omdat hulle eers Johannes die Doper verwerp het en nou vir Jesus, is nog nie klaar met hulle konfrontasie en teenkanting van Jesus nie. In ons Skrifdeel (22:15-22) gebruik die Fariseërs meer subtiele taktiek om die inisiatief te herwin, nadat Jesus die hoëpriesters en familiehoofde ontmasker het (21:45). Eers probeer die Fariseërs Jesus uitlok om ’n direkte uitspraak te maak wat hulle teen Hom kan gebruik. Hiervoor heul hulle met sommige Herodiane (ondersteuners van Herodes Antipas). Dit was ’n vreemde alliansie. Oor die saak waaroor hulle Jesus in diskrediet wou bring, het die Fariseërs en Herodiane verskillende standpunte gehandhaaf. Dit was vir Jesus gevaarlik om deur hierdie kombinasie van godsdienstige en politieke vennote gekonfronteer te word.
Inleidend tot hulle vraag stel die Fariseërs ’n aantal eienskappe oor Jesus om Hom om die bos te probeer lei. Hulle weet Jesus is opreg en leer God se weg waarheidsgetrou, asook dat Hy nie deur mense se aansien beïnvloed word nie (vers 16). Jesus is dus uiters bevoeg om hulle vraag te beantwoord en uitklaring te gee. Hulle vra kamtig sy opinie: “Is dit toelaatbaar om aan die keiser belasting te betaal?” (vers 17). Hulle verwagting was dat Jesus eenvoudig “ja” of “nee” moet antwoord. Indien Jesus sou antwoord dat dit wettig is om dié spesifieke belasting aan die vreemde maghebber te betaal, sou dit nie die Herodiane ontstel het nie, maar die Fariseërs rede gee om die volk teen Jesus aan te hits. Die gewone mense het die Romeine as hulle onderdrukkers beskou. Indien Jesus egter antwoord dat sodanige belasting onwettig is, sou die Fariseërs dit verwelkom het, maar die Herodiane kon dit dan as verraad teen die Romeinse heersers gebruik. Herodes was immers ’n agent van die imperiale heerser.
Jesus het egter deur hulle strategie gesien, beide wat hulle valse erkenning van sy opregtheid betref én die vorm waarin die vraag gestel is. Jesus het geweet hulle soek die kortste pad om Hom uit te vang. Dit is hulle skynheiligheid. Daarom vra Jesus hulle om een van die silwer munte te bring waarmee dié spesifieke belasting betaal word. Terwyl Jesus die munt in sy hand hou, rig Hy ’n teen vraag aan die Fariseërs: “Wie se afbeelding en inskripsie is op die munt” (vers 20). Die enigste moontlike antwoord was dat dit die keiser se afbeelding en inskripsie is. Daarmee ontmasker Jesus hulle bedoeling en ruk die mat onder hulle voete uit. Die Fariseërs was nou in die beskuldigde bank. Die geldstuk vir die belasting was die Romeinse denarius wat die Jode verafsku het omdat die afbeelding van die keiser daarop was. Die Dekaloog het hulle verbied om afbeeldings te maak. So ook die inskripsie die keiser is die “seun van god”.
Vir gewone daaglikes handelsaktiwiteite was gewone koper munte beskikbaar sodat die Jode nie hierdie veragtelike silwer munstuk met sy afbeelding en inskripsie hoef te gebruik het nie, behalwe vir die betaling van hierdie belasting. Die feit dat Jesus se ondervraers dié veragtelike munstuk in hul besit gehad het, het hulle in onguns gestel voor die Jode en die Fariseërs kwesbaar gestel. Jesus se argument is dan dat aangesien hulle die keiser se geld vir alledaagse sake gebruik, moet hulle ook sy belastings betaal. Die werkwoord “gee” wat hulle in vers 17 gebruik, beteken dat hulle dit aan die keiser verskuldig is. Jesus gaan egter verder en plaas die hele kwessie in ’n groter konteks as Hy sê: “…gee aan God wat Hom toekom” (vers 21). Jesus stel dit aan sy gehoor dat lojaliteit aan God, nie verpligtinge teenoor politieke heersers kanselleer nie. Jesus verkondig nie ’n strak skeiding tussen die godsdienstige en sekulêre lewe nie. Vir Jesus vind die “sekulêre” juis haar besondere plek binne die primêre “godsdienstige” dimensie. “Gee aan God wat aan God toekom” en vind daardeur die balans van die lewe en politieke verhoudinge.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Een en Twintigste week van Koninkrykstyd – Jaar A