‘Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.’ 1 Korintiers 2:4-5

Is dit nie bevrydend om te weet dat jy nie in jou eie krag die evangelie hoef te deel nie? Jy hoef nie glad met jou tong te wees, of fantastiese oorredingsvermoë te hê nie. Jy hoef ook nie hooggeleerd te wees en die Bybel op die punte van jou vingers te ken nie. Dit is nie geleerdheid en welsprekendheid wat mense daarvan oortuig om Jesus Christus as hulle verlosser aan te neem nie.

Al wat jy hoef te doen, is om in gehoorsaamheid die boodskap oor te dra. Die Heilige Gees sal die oortuiging doen. Want, op die ou end, is dit net Hy wat wedergeboorte kan bewerkstellig.

‘Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.’ Johannes 1:12-13

Dít is juis wat wedergeboorte so kragtig maak. Dit is nie iets wat gebeur omdat iemand ’n mooi filosofie aanhang of getrou sekere rituele uitoefen nie. Wedergeboorte is werklik ’n bonatuurlike gebeurtenis wat van ’n sondige mens iemand maak wat vlekkeloos voor God se troon staan.

Daarom is dit absoluut noodsaaklik dat jy die opdrag om die evangelie te deel saam met die Heilige Gees uitvoer. Dit is die rede waarom jy die Gees ontvang het.

‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”’ Handelinge 1:8

Spits jou geestelike ore vir sy stem en laat Hom toe om deur jou te werk. Net daar waar jy is, met wat jy het. Hy kan jou unieke situasie en gawes gebruik op maniere waarvan jy nie eens kan droom nie.

‘… Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.’ Sagaria 4:6

Geskryf deur Madeleine Venter