Bevind jy tans jouself in ’n hopelose situasie? Dan is jy in goeie geselskap.
Dwarsdeur die Bybel is daar verhale van karakters wat hulleself in onmoontlike situasies bevind het. Een so ’n persoon, was Jeremia.
In Jeremia 38 lees ons hoedat die profeet in ’n put gegooi en vir dood gelos is. In Klaagliedere 3:52-56, skryf hy oor sy nare ervaring, en dan kry ons hierdie mooi woorde in vers 57:
‘U het na my toe gekom toe ek geroep het, U het gesê: “Moenie bang wees nie!”’ Klaagliedere 3:57
Terwyl Jeremia al dieper in die modder weggesak het, het die Kusiet, Ebed-Melek, die koning daarvan vertel, en die koning het beveel dat Jeremia uit die put gered moes word. (Jer. 38:7-10)
Jeremia het geroep, en die Here het opgedaag. Nie oop en bloot nie, maar agter die skerms.
Ebed-Melek was ’n amptenaar in die paleis en hy was heel waarskynlik daar toe die ander amptenare by koning Sedekia kom kla het oor Jeremia se doemprofesie. Hy het dalk gehoor toe die koning sê: “Hy is in julle mag.” Hy het egter nie geskroom om die koning hieroor te konfronteer nie.
Terwyl Jeremia om sy lewe veg, het God gesorg dat die dapper amptenaar daarvan te hore kom en het Hy hom guns by die koning gegee. Hy het Ebed-Melek ook die idee gegee om lappe en ou klere uit die paleis se pakkamer te kry sodat Jeremia dit onder sy arms kon sit terwyl hulle hom met toue uit die taai modder trek.
Jy kan vir seker weet dat die Here ook sal opdaag wanneer jy roep. Jy hoef nie bang te wees nie.
Dit sal miskien nie heeltemal lyk soos wat jy dink dit moet lyk nie, en dit mag ook vir jou voel asof die Here van jou vergeet het.
Hou net moed. Hy sal jou nooit verlaat of in die steek te laat nie. En in Jesaja 41:10 belowe Hy:
‘Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.’ Jesaja 41:10
Mag jy vandag nuwe moed skep, en onthou, Hy is reeds agter die skerms besig om ’n uitkoms te bewerk.
Geskryf deur Madeleine Venter