‘Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.’ 2 Timoteus 2:15
Paulus skryf aan Timoteus dat hy nie net tot beskikking van God behoort te wees nie, maar ook dat dít wat hy vir Here doen, van baie hoë gehalte moet wees. ’n Entjie verder, skryf die apostel hoe Timoteus kan verseker dat hy aan hierdie standaard voldoen, en dit is deur op die Skrif staat te maak:
‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk’ 2 Timoteus 3:16-17
Timoteus het nie selfhelpboeke, teologiese kurrikulums, of oordenkings gehad waarmee hy homself kon toerus vir die werk wat hy geroep was om te doen nie. Hy het slegs dit wat sy Joodse ma hom uit die Torah geleer het, en Paulus se briewe gehad. (2 Tim. 1:5)
Vandag het jy soveel meer. Jy het die Ou Testament, volledige verslae oor Jesus se lewe en leer, en die apostels se briewe, alles in een.
Jy het ’n Bybel.
Dit behoort altyd jou eerste bron te wees. As die Skrif wat Timoteus tot sy beskikking gehad het, hom volkome kon voorberei en toerus vir elke goeie werk, hoeveel te meer kan Die Bybel wat ons vandag het dit nie doen nie?
Veronderstel jy stap by ’n nuwe werk in, en jou werkgewer gee aan jou ’n handleiding wat hy self geskryf het oor hoe jy jou werk behoort te doen. Dit sal baie dom wees om nie daardie handleiding deeglik te bestudeer nie.
Net so is dit wanneer jy nie jou Bybel lees nie, maar steeds diensbaar vir God probeer te wees.
Waak dus daarteen om nie jou eie persoonlike Bybelstudie af te skeep nie. Onthou, elke woord wat jy lees is deur God geïnspireer – die Een in wie se diens jy staan.
‘Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.’ Hebreers 4:12
Geskryf deur Madeleine Venter