MATTEUS 21:33-46 (Lees die 2020-vertaling)
Jesus en sy dissipels het by die Heilige Stad (21:1-5) aangekom. By hierdie draaipunt en verder in Matteus se vertelling, speel die Tempel ’n belangrike rol. Terwyl Jesus op die temepelterrein besig was met onderrig het die hoëpriesters en familiehoofde van die volk Hom gekonfronteer met die vraag oor die gesag waarmee Hy onder andere die geldwisselaars van die tempelterrein verjaag het (21:12-17). In die konfrontasie met die leierpriesters en familiehoofde van die volk (21:23, 33) het Jesus ook drie gelykenisse vertel wat handel oor God se oordeel van Israel omdat hulle Johannes die Doper verwerp het (21:28-32), ook vir Jesus (21:33-46) én Jesus se boodskappers (22:1-10). Die tweede gelykenis (ons Skrifdeel) oor die slegte landbouers (huurders) is van besondere belang vir die opbou van Matteus se vertelling.
Jesus rig dié gelykenis aan die Joodse amptenary wat met die Sanhederin geassosieer was. Jesus skets met behulp van metafore, God se handelinge met Israel in die gang van die heilsgeskiedenis. Jesus identifiseer God met die eienaar van die wingerd, die godsdientige leiers met die slegte landbouer huurders en Homself as seun van die eienaar, vir wie die huurders doodmaak en uiteindelik self veroordeel word vir hul dade. Met dié identifiserings kondig Jesus openlik aan Hy is die Seun van God vir wie die godsdientige leiers binnekort sou doodmaak, maar vir wie God regverdig sal maak deur sy opstanding uit die dood. Die Seun van God se dood en opstanding is die beslissende gebeure in God se omvattende heilsgeskiedenis.
Terwyl Jesus oor Homself praat as “my seun” (vers 37), stel Hy ook die eienaar van die wingerd bekend as God, wie die hoop uitspreek dat die slegte huurders “my seun met respek behandel” (vers 37). Die verwysing na “my seun” herinner aan dieselfde verwysing by twee voorafgaande geleenthede in Matteus se vertelling, naamlik by Jesus se doop deur Johannes die Doper (3:17) en op die Berg van Verheerliking (17:5). Deur God se uitsprake by die voorafgaande geleenthede te herformuleer, stel Jesus dit in ons gelykenis dat God na Hom kyk as God se Seun. Jesus se doel is dus om God se beoordeling van sy identiteit aan te bied as sy eie standpunt en die godsdienstige leiers daarmee te konfronteer.
Jesus se bedoeling met die self-toepassing van God se beskouing dat Hy God se Seun is, het nie die godsdienstige leiers ontgaan nie. Hulle verstaan wel dat die metafore wat Jesus gebruik en die aanspraak wat Hy gemaak het oor wie Hy is, beide volgens Homself en in God se oë, daarop dui dat Hy die Seun van God is vir wie hulle sou doodmaak (vers 45). Hulle reaksie op die ontbloting van hul motiewe deur die konfrontasie met Jesus, was om Hom gevange te neem. Die skare se positiewe gesindheid teenoor Jesus as ’n profeet, het hulle egter versigtig gemaak om haastig op te tree (vers 46). Hul uitgestelde optrede bevestig dus dat hulle die boodskap van die gelykenis oor wie Jesus is, verwerp.
Ten spyte daarvan dat hulle Jesus se boodskap met die verstand verstaan het, kon hulle dit nie met die hart aanvaar nie. Hulle verwerp dit openlik. Die ironie is dat die geestelike leiers, deur hul verwerping van Jesus se boodskap, onbewustelik ook God se beskouing van wie Jesus is verwerp. Die tragedie is dat, alhoewel hulle die geheim meegedeel word dat Jesus die Seun van God i, hulle onbevoeg is om die waarheid daarvan te begryp en te omhels. Die openbare bekendmaking van die geheim dat Jesus die Seun van God is, bly daarom vir dié hartvogtige leiers geslote. Omdat die self-genoegsame godsdienstige leiers nie insig in God se geopenbaarde verlossingsplan kon bereik nie, dwing hul openbare konfrontasie met Jesus, hulle tot stilswye en het niemand ooit weer gewaag om Hom te ondervra nie (22:46). Mag ons meer insig toon in die openbaring van die geheim oor wie Jesus is, om deel te bly van God se heilswerk.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Negentiende week van Koninkrykstyd – Jaar A