Na aanleiding van Psalm 103:1-14 (lees 2020-vertaling)

Here, dié eerste in ’n reeks lofpsalms wat strek tot by 107, het my nie net geprikkel om u te loof nie, maar my veral aangespoor om ’n lysie op te stel, ’n opname te maak van dinge waaroor ek U wil, en werklik behoort te loof. In die
Hebreeus roep Dawid sy siel op om U, die Here, te seën.

Ek voel effe ongemaklik om die woord “seën” te gebruik vir my handeling teenoor U, Here. Vir al die dinge wat op my lysie staan wat U in my lewe gedoen het en nog elke dag by herhaling doen, voel dit vir my “seën” pas by die gawes waarin U my laat deel, met “lof” my reaksie op U.

As ek dan u werke onthou, Here, nie één van u weldade probeer vergeet nie, wonder ek hoe dié bewussyn my daaglikse lewe raak en die kwaliteit van aanbidding tot U verdiep en versterk. ’n Lysie van enkele dinge wat ek wel kan onthou, ruk die begeerte om U te loof in my oop.

Here, my beperkte opname van wat ek nog van u weldade kán onthou, laat my afleidings maak oor u wese, wat my begrip laat duisel. Die menslik-onbeskryflike en onpeilbare omvang van u troue liefde, dwing my om na beelde te gryp
waardeur ek my verwondering oor U probeer voorstel.

Die Psalmis herinner immers sy geloofsgenote om diep in ons binneste in te kyk, in jou siel in – as die binne sentrum van jou bestaan. Daaruit moet ek reageer op die ervaring dat U gans anders optree as wat mense verwag. U vergewe
my sondeskuld, terwyl ek straf verdien en ander veroordeel.

Here, dit is so bevrydend en leweskeppend om op my lysie te sien dat U nie soos ons vashaak by beskuldigings nie. U openbaar Uself aan stoflike mense as God wat barmhartig, genadig, geduldig en oorvloedig in troue liefde is. U bly nie toornig nie, maar maak vir ons ruimte om by U te leef.

Here, ek kan ook al saam met Dawid begin praat vanuit sy ervaring dat die lewe aanstap en die ouderdom in die lyf in kruip. Ek kan ook in dié verband op my lysie aftik dat U krag gee en nuwe energie skep, om elke dag betekenisvol aan te hou lewe. Ja, U weldade maak ou dinge nuut en wek ons lof.

Here, my siel loof U, wie bo my begrip is. Dankie dat U méér is as al die lysies wat ek wil of kan saamstel.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – SESTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD