Na aanleiding van Psalm 105:1-6, 23-26, 45b (lees 2020-vertaling)

Here, nog ’n psalm waarin die Psalmis sy geloofsgenote oproep tot lofprysing en verkondiging van u dade. Elke keer wanneer ’n mede-gelowige my/ons aanspoor om u Naam met oorgawe te prys en die volle aandag op U te vestig, onthou ek nóg iets van u teenwoordige krag.

Soos die Psalmis sy geloofsgenote destyds herinner aan u verbondstrou aan Abraham en sy nageslag, verseker dié lofpsalm my generasie gelowiges daarvan dat U ook vir ons in u ontfermende liefde vashou en versorg, U is die Here ons God. U beslissings geld wêreldwyd!

Here, my gebed vandag word beweeg deur die Psalmis se herinnering aan ’n verhaal uit u betrokkenheid by die geskiedenis van Israel, u verbondsvolk. U het Moses u kneg, in die Median woestyn geroep met die verskyning van ’n brandende bos. Dit bly my inspireer.

Wat die Psalmis onthou en wat hom aanspoor om u lof te besing, Here, is dat U kennis geneem het van u volk in die land van Gam. U het opgetree toe hul u hulp ingeroep het. U het hul gesmeek gehoor. U het Moses toe geroep en
gestuur om u bevryding vir hulle uit slawerny deur te voer.

Here, die boodskap van troos en hoop uit dié verhaal vir my eie lewe én die kontekls waarin ons ons bevind – plaaslik en wêreldwyd – is dat U van ons elkeen weet. U hoor u kinders se versugtinge, ons hulpgeroep dat U moet ingryp. My hoop is op U vir uitkoms wanneer die mag van mense ons bedreig.

Die Psalmis herinner ons ook dat U gewone mense gebruik om vir U opdragte uit te voer, Here. In die bevrydende werk wat U doen in ’n wêreld van haat en verknegting, roep U die onwillige Moses om die magtige farao te konfronteer met ’n opdrag om die kinders van Jakob, u uitverkorenes, vry te laat.

Dankie dat U ook fyn luister na óns hulpgeroep, Here. Dankie dat u oë skerp fokus op die omstandighede waarin ons leef en die onreg sien wat mense pleeg. Dankie dat U ook in ons tyd mense roep om maghebbers te herinner aan die God van Jakob. U het in die geskiedenis opgetree en verlossing bewerk.

Here, ons soek u krag en teenwoordigheid. Ons roep u Naam uit en onderneem om u dade aan die volke bekend te maak.
Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VEERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD