‘Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie.’ Lukas 11:34-35

Jesus se aanhoorders het dié Skrifgedeelte baie goed verstaan. In sy boek, Dink soos Jesus, verduidelik Kobus Neethling dat mense in die Bybel se tyd geglo het ’n mens kan sien omdat jou oë lig uitstraal. Daardie lig word dan vanaf die voorwerpe wat jy sien na jou teruggekaats.

As jy dus in ’n slegte lig na iets kyk, word daardie slegte lig na jou teruggekaats en het dit ’n negatiewe uitwerking op jou belewenis van mense en dinge rondom jou.

In Die Toeligtingsbybel, klink Lukas 11:34-35 so:

‘Jou oog (Die ingesteldheid van jou gees) is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog (suiwer en ontvanklike gees) laat lig (die waarheid, openbaringe, insigte wat van God af kom) in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog (geestelike blindheid) sluit die lig uit en dompel jou (denke) in duisternis. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie.’ Lukas 11:34-35 Die Toeligtingsbybel

Waarop dit neerkom, is dat jy altyd mense en dinge negatief sal ervaar wanneer jy met ’n negatiewe ingesteldheid deur die lewe gaan. Dit dompel jou denke in duisternis en ontneem jou van vrede en lewensvreugde. Hoe donkerder jou gemoedstoestand raak, hoe ‘slegter’ raak die lig waarmee jy kyk en wat na jou teruggekaats word – so ontstaan ’n bose kringloop van ellende.

Wanneer jy egter in die lig van Jesus se liefde en genade, in dankbaarheid en verwondering, na die wêreld om jou kyk, word daardie ‘goeie’ lig na jou teruggekaats in die vorm van positiewe ervarings. So verlig dit jou gemoedstoestand en denke sodat jy altyd met ’n ‘goeie oog’ na omstandighede kyk.

‘As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”’ Lukas 11:36

Natuurlik kan jy nie oor alles wat jy sien en beleef positief wees nie. Jy hoef egter nie toe te laat dat die boosheid wat jy waarneem jou denke in duisternis dompel nie, want jy ken die heerlikheid van God.

Jy ken die Lig self, en Hy het die duisternis reeds oorwin.

(Joh. 1:4-5; Joh. 8:12; 2 Kor. 4:6)

Geskryf deur Madeleine Venter