Na aanleiding van Psalm 124 (lees 2020-vertaling)
Here, die Psalmis se soeke na verklarings oor uitkomste van gebeure in die lewe van Israel, roer my om vandag ook te peins oor hoe dinge in die lewe verloop – my eie lewe én van Suid-Adrika en haar mense. Hoe verstaan mens waarom omstandighede juis vir jóú gunstig uitval?
Ek het die afgelope twee weke op twee vlakke bewus geword van uitkomste op gebeure wat my persoonlik diep dankbaar gestem het, Here. Enersyds was daar ’n geleentheid om die verhaal oor Suid-Afrika se oorgang na demokrasie te herbesoek. Hoe was dit moontlik?
Ek weet dat die invalshoek op die verhaal en die keuse van faktore wat ’n rol speel, jou interpretasie van gebeure beïnvloed, Here. Maar, as mens die potensiaal vir ’n baie slegte uitkoms op die proses tog wil erken, gebeur daar iets in my gees. Ons is kollektief van ’n ramp bewaar!
Hoe ek dié bloedlose uitkoms saam met my landgenote moet verstaan, Here, weet ek steeds nie. Wat wel waar is, is dat daar opregte dankbaarheid in my hart is en dat ek soos die Psalmis destyds, my landsgenote en medegelowiges wil oproep: Die Here moet geprys word!
Here, die tweede vlak waarop ek bewus geword het van ‘n onverklaarbare uitkoms, is heel persoonlik van aard. Ek en my vrou het vakansie gehou in die vorm van reis met ’n motor deur ’n deel van ons land. Ons het lang tye op pad
deurgebring en veilig tuis gekom. En ons is dankbaar!
Die twee ervarings wat my hart in dié dae dankbaar gestem het, Here, is enkele voorbeelde van dinge wat herhaaldelik in ons lewe gebeur. Mens hoef nie swartgallig te wees om jou alternatiewe uitkomste te verbeel nie. Wat gebeur nie
daagliks met reisigers op paaie nie? Was ons net gelukkiig?
Here, dit is die gewone dinge van die lewe wat ons uitdaag om geloofsonderskeidend om te gaan met vrae oor waar en hoe U in elke aspek van ons lewe teenwoordig is. Die Psalmis help my ten minste om bewustelik te vra of dit wel sin maak om te wonder of U nie dalk ons lewe in u hand hou nie?
Here, ek kan tans nie anders as om soos die Psalmis te getuig nie: As die Here nie by ons was nie… Ek glo: U het die hemel en die aarde gemaak en sorg steeds daarvoor. Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – DERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD