‘U regeer vir ewig, Here,’ Psalm 92:9
Alles is gedurig aan die verander. Nie net wat wêreldgebeure, ekonomie, weersomstandighede en tegnologie betref nie, maar ook jou gesondheid, verhoudings, omgewing en emosies. Ons leef in ’n dinamiese wêreld. Op en af soos ’n bootjie op die see.
Daarom is dit so gerusstellend om te weet dat daar wel een konstante is waarop jy altyd kan reken, en dit is God se soewereiniteit.
‘“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.’ Openbaring 1:8
Sy goedheid en liefde hang nie af van jou wispelturige emosies nie. Sy plan vir jou lewe word nie deur krisisse gekniehalter nie. En wanneer jou geloof wankel en jy dwaal af, bly Hy steeds God. Altyd daar. Altyd in beheer. ’n Standvastige rots.
Hebreërs 6:19-20 sê:
‘Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.’ Hebreers 6:19-20
Die woord ‘Voorloper’ in Grieks is ‘prodromos’ wat beteken ‘om vooruit te gaan’. Dit is ʼn term wat algemeen gebruik was vir ʼn klein groepie soldate wat vooruit gegaan het om ʼn pad oop te maak tydens ʼn oorlog.
Die woord is ook, in die tweede eeu na Christus, gebruik vir die kleiner bootjies wat soms voor groter skepe die hawe binnegegaan het.
Hierdie kleiner bootjies het die groter skepe se ankers deur die brekende branders gedra en dan in die hawe laat sak. Die skepe was dus reeds in die hawe geanker, selfs nog voordat hulle die hawe binne gevaar het. Omdat hulle reeds in die hawe geanker was, kon hulle dan met meer hoop en sekerheid die branders trotseer om sodoende die hawe binne te vaar.
Jesus het vooruit gegaan en jou siel gaan anker in die Allerheiligste.
Die storms kan maar kom en die branders kan maar breek. Jou anker gaan nie beweeg nie.
Daarom mag jy saam met die Psalmdigter verklaar:
‘Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here … vir my is die Here ‘n veilige vesting, my God is die rots waar ek kan skuil.’ Psalm 94:18; 22
Geskryf deur Madeleine Venter